top of page

2025 2 Blydskap wat oorvloei na ‘n wêreld daarbuite

Alet Gardner

Brink en ek het die voorreg gehad om ‘n paar vakansies in die Franse platteland te kon deurbring. Op pad tussen Laguépie en die plaashuis waar ons tuisgegaan het, kon ons gereeld ‘n hele paar bottels by die fontein langs die pad vul. Dis ongelooflik hoe die heerlikste koel, skoon en vars water aanhoudend uit so ‘n onopvallende, nederige fonteintjie teen ‘n grondwal kan borrel.  


Meer algemeen in die Suid-Afrikaanse platteland is die besproeiingstelsels, waar elke pyp ‘n skoon kanaal vir lewegewende water is. ‘n Evangelisvriend van ons het so graag die voorbeeld gebruik van sonde, wat soos ‘n padda in een van hierdie pype vassit en verhinder dat die lewegewende water van die Here se genade, liefde en blydskap deurvloei en ander om my verkwik. 


Natuurlik hoef ek nie te wonder hoe om daardie “pyp” van my lewe weer skoon te kry nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is. – 1 Johannes 1:9 NLV


Deur hierdie “pyp”, wat deur genade “skoongemaak” is, kan daardie “strome lewende water” van die Heilige Gees (Johannes 7:38, 39) vloei en liefde, blydskap en vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing sigbaar raak in my lewe. Soos in ‘n goeie besproeiingstelsel kan ek deel vorm van Jesus se kerk op aarde, saam ‘n kanaal wees waardeur Sy seën oorvloei na my naastes, my naaste en die wêreld daarbuite. 


My verantwoordelikheid is om saam te werk aan ‘n “oop pypbeleid”: Die oomblik dat ek agterkom daar is sonde wat die vloei van God se seën verhinder, kan ek in gebed na Hom toe gaan, my sonde by die naam bely en met blydskap verder ‘n kanaal van sy liefde wees vir my huismense, my kollegas by die werk, my broers en susters en ‘n seer en stukkende wêreld daarbuite. 


Om bly te wees, vreugdevol te wees is nie maklik nie, maar as ek onthou dat elke dag ‘n dag is wat die Here gemaak het, ‘n dag om oor te juig en bly te wees, kan ek hierdie blydskap in die wêreld om my indra. Een van die grootste gawes vir ander is dat ek met my lewe / optrede / getuienis God se liefde in ‘n ander se lewe inbring. Die gevolg is ware blydskap vir die ander, maar ook vir my.  


Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page