
Vroeër was die dood nie so volop en so naby as tans met die derde golf van die Covid-pandemie nie. Ons almal beleef skielik hoe geliefdes en vriende rondom ons sterf. Ons beleef hoe baie mense veg vir hulle lewens. Daarom is dit nodig dat ons as gelowiges in hierdie tyd reg oor die lewe en die dood moet dink, soos wat die Nuwe Testament hieroor skryf:
Die dood is nie vir God ‘n verleentheid nie. Christus hou die sleutels van die dood in Sy eie hand vas. (Op. 1:17 - 18)
Die Here se kinders is nie slagoffers van die dood nie, nie eens van ‘n wrede dood nie. Wanneer Stefanus byvoorbeeld vermoor word, sien hy vir Christus in die hemel raak (Hand. 7:58 - 60)
Die dood is nie “die vyand wat kom roof” nie. Dit is ’n wins vir elkeen, wat in Christus sterf. (Fil. 1:21 - 23)
Ons hoop is nie dat ons later alles sal verstaan nie. Ons hoop en ons troos is dat niks ons kan skei van die liefde van God nie. (Rom. 8:37-39)
Ons leef en sterf tot eer van Christus (Rom. 14:7-9). Ons weet hierdie lewe is nie ons eindbestemming nie. Dit gaan verby. Christus roep ons na ons ewige adres toe. (2 Kor. 4:16 - 5:10) Daar by Hom wag ons oorwinningskroon. (2 Tim. 4:6-8)
Comentários