top of page

As jy in Rome is … of in Suid-Afrika

Stephan Joubert
Teks: 1 Korintiërs 9:22

“As jy in Rome is, maak soos die Romeine!” Het jy ook al hierdie uitdrukking iewers raaakgeloop? Het jy dalk ook gewonder waar dit vandaan kom? Dit kom uit ‘n gesprek tussen die baie bekende kerkvaders, Ambrosius en Augustinus, toe laasgenoemde nog aan die einde van die vierde eeu na Christus ‘n priester in Milaan was. Augustinus moes een keer vir ‘n naweek na Rome toe gaan, waar die Sabbat op Sondae deur die kerk gevier is, terwyl dit in Milaan nog op Saterdae onderhou is. Augustinus wou toe by Ambrosius weet wat om te doen. Dis toe dat Ambrosius hierdie bekende woorde gesê het dat wanneer jy in Rome is, dan maak jy soos die Romeine. 


Die apostel Paulus skryf op dieselfde trant in 1 Korintiërs 9 dat jy vir die Jode soos ‘n Jood word en vir die Grieke ‘n Griek sodat sommiges gered kan word. Helaas het party gelowiges dit omgedraai. Dikwels probeer hulle om ander mense te verander om eerder soos hulle te wees, te dink, te doen en te praat. Dit moet egter presies andersom gebeur. Ons as gelowiges moet juis uit ons pad gaan om aan te pas en mense met die evangelie van Christus te dien. Ons moet diegene wees wat agteroor buig sodat ander Christus se goedheid kan ervaar en sodat hulle gered kan word. Ons moet minder word sodat ander vir God kan raaksien, ook hier in Suid-Afrika. Ons is diensknegte van die evangelie. Ons doen moeite om dit relevant aan mense binne hul eie leefwêrelde te kommunikeer. Doen jy dit?


Gebed: Leer my, Heer, om minder te wees sodat ander mense vir U in my lewe kan raaksien.


コメント


コメント機能がオフになっています。
bottom of page