top of page

Bestuur gelowig

Stephan Joubert

Sowat 3 000 mense sterf per dag wêreldwyd in motorongelukke. Nalatigheid, spoed, alkohol en padwoede speel ’n groot rol in die slagtings op ons paaie. Trouens, 30% van alle motorongelukke word direk aan bestuurders se nalatigheid toegeskryf. Hoe veiliger motorbestuurders meen dat hul motors is, hoe vinniger ry hulle.


Moet ons daarom nie net vir ’n oomblik terugsit en onsself afvra of ons nie die Here ook moet saamnooi as ons agter die stuurwiel inskuif nie? Kan ons bekostig om ons geloof tuis te laat wanneer ons bestuur? Het ons ’n lisensie gekry om aggressief te bestuur, omdat almal dit doen? Sal dit nie ’n groot verskil maak as ons tien minute vroeër ry na ’n afspraak en stadiger ry nie? Dan sal ons veel kalmer wees en ook sommer ons motorbestuurdery tot eer van die Here doen. Dan laat ons Hom in die detail van ons lewe in, daar waar dit die meeste saak maak!


Die Here vra van ons om ons lewe – en ja, ons bestuursgewoontes – as ’n offer van dankbaarheid voor Hom te lê. Ons motoriese beheer word dan ook ’n geestelike dissipline, ’n praktiese manier om Sy lig uit te straal.


Gebed:

Here, ek nooi U saam in my motor en in my hart wanneer ek bestuur. Lei my om my reis en my optrede agter die stuur tot U eer te maak. Gee my die wysheid om kalm te bly, die geduld om ander toe te laat, en die selfbeheersing om veilig te bestuur. Mag my bestuursgewoontes ’n weerspieëling wees van my toewyding aan U. Amen.

Commentaires


Les commentaires ont été désactivés.
bottom of page