Ek en Brink was onlangs deur ‘n jonger man opgelaai vir die twee ure rit lughawe toe, totaal onbewus van hierdie man se smeking voor die Here dat iets spesiaals oor sy pad mag kom. In plaas daarvan om soos gewoonlik voor ‘n lang vlug sommer net ons oë toe te maak vir ‘n lekker slapie, het ons met hom begin gesels. Deur net ons storie met hom te deel, te vertel wat die Here in en om ons lewe gedoen het en steeds doen, kon die jongman omtrent dans van blydskap. Hy kon sien en hoor dat die Here leef en dat Hy vir Sy kinders omgee, dat Hy wil hê dat Sy kinders Sy liefde met ‘n stukkende wêreld daar buite deel.
Op ons pad deur die lewe het ons so dikwels die onrealistiese verwagting dat iemand of iets ons lewe met vreugde gaan vul. So het ek jare gelede met die kerkpaadjie afgestap om in die huwelik met die liefde van my lewe bevestig te word. Hy gaan my immers vir die res van my lewe gelukkig maak! Die Here het egter deur die loop van ‘n paar dekades vir my geleer dat ware blydskap net een standhoudende Bron het: die Here self. Hy is die Een wat deur die blydskap, wat Sy Gees in my gee, dit ook kan gebruik om vir ander tot seën te wees.
Wanneer ek ‘n nuwe dag, ‘n nuwe week, ‘n nuwe jaar met hierdie ware blydskap ingaan, met die negevoudige vrug van die Heilige Gees (Galasiërs 5:22-23), is ek meer sensitief vir ander se behoeftes. Vir daardie gesin, wat nie kan bekostig om vir hulle tienerseun se rugstut te betaal nie, kon ek iets van die Here se genade wys deur my finansiële bydrae om die rugstut te kon kry. Die blydskap wat dit vir die gesin gegee het, is gebaseer op die liefdevolle voorsiening van God (deur een van Sy kinders).
Máár, om iets van hierdie blywende blydskap die wêreld te kan indra, moet ek soos Jeremia 17 se bome naby die stroom van lewende water my geestelike wortels gereeld diep in die vrugbare oewer van hierdie rivier laat ingroei. Ek moet my gereeld verdiep in die waarhede van die Woord (die Bybel) en daarvolgens lewe.
Die vrug van die Gees met fasette soos o.a. liefde en blydskap, is ‘n teken of bewys van ‘n lewe, wat oorgegee is aan Hom wat die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy lewe daarvoor afgelê het. Wat ‘n verantwoordelikheid om so onder die beheer van Sy Gees te lewe dat ek, waar ek ookal gaan, die seën van Sy liefde en blydskap met ander kan deel.
It must be said that we can have joy, and therefore will have it, only as we give it to others … - Karl Barth
Komentar