
Lees 1 Korintiërs 14:1
Die Heilige Gees verander my vanaf ’n selfsugtige wese, wat dink dat die ganse heelal om my draai, in iemand wat agterkom dat God en ander mense op die ou end belangriker as ekself is. Eintlik is alle Christene ewe belangrik vir die Here. Daar’s nie een Christen, wat so ‘n paar treë nader aan die Here staan as iemand anders nie. Ek leef maar net asof alle ander mense belangriker as ekself is, maar die feit is dat ons almal gelyk is in God se oë.
Maar wat van die gawes? Is daar dalk sekere gawes, wat vir God van groter nut as ander is? Ja! Vir Paulus is daardie gawes, wat medegelowiges se geloof versterk en opbou, van groter waarde as daardie gawes, wat slegs tot persoonlike geloofversterking dien. Sekere gawes is inderdaad van groter nut in die Here se diens as ander gawes, omdat hulle volgens Paulus ‘n groter rol in die diens en opbou van die kerk speel. Die kerk is die aardse liggaam van Christus, soos wat ons al ‘n paar keer vantevore gesien het. Om te sorg dat hierdie liggaam God verheerlik, moet elke gawe wat hiertoe bydra, in die kerk geaktiveer word. Daarom, sonder dat sekere mense belangriker as ander in die kerk is, is sekere gawes van groter nut as ander, omdat dit verband hou met die opbou van mekaar se geloof.
Gebed:
Here, help my om U kinders op die hande te dra en van harte lief te hê. Amen
Commentaires