Lees Efesiërs 5:24
‘n Onlangse Amerikaanse studie bevind so ewe dat vroue beter luisteraars as mans is. Hulle het glo meer luisterkappasiteit in hulle kop as ons mansgeslag. Maar dan praat vroue glo ook meer woorde per dag as mans. Dis seker hoekom die meeste mans, wanneer hulle na werk tuiskom, so stil is. Hulle het dan reeds hulle kwota woorde vir die dag opgebruik, terwyl vroulief eintlik nog net halfpad gepraat is!
Nee, ernstig, ons moet leer om mekaar te verstaan. Ons moet ruimte vir ons lewensmaats se uniekheid maak. Nie een van ons is fotostate van mekaar nie. Te veel mense probeer hul lewensmaats verander om presies net soos hulle te wees. Dis nie ons roeping nie. God wil hê dat ons mekaar net moet liefhê en elke dag op die hande dra. Hy wil nie hê die mure rondom ons liefdesverhoudings moet tronkmure wees wat ons tot lewenslange tronkstraf vonnis nie, maar eerder kasteelmure, wat liefde en warmte en veiligheid insluit. Daarom moet vroue hul mans help om beelddraers van God te wees deur hul dienende leefstyl. Natuurlik beteken dit nie dat hulle geen opinie van hulle eie het, of dat hulle alles stilswyend moet aanvaar wat hul mans sê of doen nie. Nee, ‘n leefstyl van onderworpenheid in ‘n Christelike huwelik beteken dat vroue hulle hul mans dien met harte, wat deur die Gees aangeraak is. Hulle moet ook nie ten alle koste hulle wil op hul mans afdwing nie.
Gebed:
Leer my hoe om te dien, Here Jesus, sodat my huweliksmaat sal groei en blom! Amen.
Comments