top of page

Christus is sigbaar in romantiese liefde

Liezel Lüneburg

Dit is geen geheim dat die liefde in Februrarie tot vervelens toe gekommersialiseer word nie. Die hele wêreld word rooi, pienk en goud geverf en in die Laeveld, waar ons woon, is Februarie die warmste maand van die jaar. Al die skakerings van rooi laat die aanvoelbare temperatuur met tien grade styg en ek voel soos ’n vuurwarm patat met voete, wanneer ek die winkels aandurf.


Ons “vier” nie Valentynsdag nie. Ek onthou ’n keer toe my pa en my man niksvermoedend op Valentynsdag by ’n plaaslike restaurant gaan eet het en eers na ’n hele ruk agtergekom het dat al die ander tafels deur skynbaar verliefde paartjies beset word! Ons lag ons nou nog slap daaroor.


Tog kan niemand onaangeraak deur Februarie stap nie. Ons kan doodeenvoudig nie anders as om oor romantiese liefde te peins nie, al is dit met gemengde gevoelens en gevolgtrekkings. 


Dit is ’n realiteit dat geen aardse verhouding tussen twee feilbare mense sonder probleme, hartseer, pyn en lyding is nie. Maar daar is ook groot vreugde in ’n gesonde romantiese verhouding te vind, veral as Jesus Christus in en deur die liefde sigbaar is. Die Bybel vergelyk nie verniet die heilige verhouding tussen Christus en Sy kerk met ’n huwelik nie en Hooglied is werklik een van die mooiste liefdesbriewe, wat ooit geskryf is.


Die vreugdes is miskien nie in die moeilike tye sigbaar nie, maar die goeie tye is ’n definitiewe getuienis van die wonderbaarlike, Godgegewe blydskap, wat hand aan hand met die diep liefde tussen huweliksmaats loop. Daar is elke sekonde van die dag miljoene sulke heilige oomblikke wêreldwyd sigbaar. Bygevoeg: Nie in flieks en televisiereekse nie, maar in die reële ruimte waarin ons elke dag leef. 


My wens en gebed is dat een en elk in die jare wat kom, menige oomblik van vreugde in die liefde tussen lewensmaats sal ervaar en besef dat dit ’n lewende, werklike getuienis van Christus se ononderbroke aardse teenwoordigheid en onfeilbare liefde vir elkeen van Sy kinders is.

Comments


bottom of page