Ek wens soms ek kon die lewe so stadig maak soos deesdae se rugbybeslissings, waar elke oortreding vanuit honderde hoeke bekyk word en boonop nog in stadige aksie. Raampie vir raampie word alles dan ontleed. Elke kort-kort word wedstryde onderbreek om so ’n raadsvergadering per video te hou oor alles, wat op ’n rugbyveld gebeur. Dieselfde gebeur ook wanneer oortredings elders in die lewe ter sprake is. In hofsake word mense se motiewe vir dae en weke lank ontleed en geëvalueer.
Ongelukkig werk dinge nie presies so in die res van die lewe nie. Hier word ons nie altyd ’n ’n kyk-weer, ’n doen-oor, of nog ’n kans gegun nie. Ons woorde is oor en verby wanneer dit ons lippe ontsnap het. Ons dade is gedoen wanneer dit gedoen is. Daarom moet ons elke dag opreg bid dat die Here ons teen onbesonne woorde en ondeurdagte dade sal bewaar. Ons moet dit, wat ons sê, die eerste keer reg sê. Ons moet dit, wat ons doen, die eerste keer reg doen. Ons kry nie eindelose kanse nie. Kom ons gryp dus elke eerste kans reg aan. Kom ons vertrou die Here om ons reg binne die normale pas van die lewe te laat leef.
Comments