top of page

Daardie “iets beter”, wat God vir jou in gedagte gehad het, is reeds bewaarheid

Stephan Joubert

“Die Here het vir jou iets beter in gedagte.” Mense sê dit graag vir mekaar in krisistye, sonder om mooi te dink wat hulle bedoel. Wel, daardie woorde het lankal hulle vervaldatum bereik. Ons leef reeds in daardie iets-beter-tyd, wat die Here vir ons almal in gedagte gehad het. Nee wag, dis nie “iets beter”, wat God toe vir ons in gedagte gehad het nie - dis Iemand beter! Ek praat van Jesus! Hyself bevestig dit in Lukas 10:23-24, wanneer Hy vir Sy dissipels sê: “Gelukkig en bevoorreg is hulle, wat sien wat julle sien. Ek verseker julle: Baie profete en konings wou baie graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie. Hulle wou ook baie graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.” (NNT-vertaling) 


Geseënd is jyself as jy hierdie woorde van Jesus verstaan. Geseënd is jy as jy dit jou eie gemaak het. Dan leef jy lankal in “beter tye” saam met “Iemand beter.” Dan leef jy in God se seisoen van genade. Jy beleef in hierdie dae dat die hemele wawyd oop is. Jy beleef in hierdie dae dat dit seën reën. Jy ervaar dit alles, omdat die Here jou oë oopgemaak het om Sy genade en Sy goedheid eerstehands te beleef. Daarom het Jesus se gebed in Lukas 10:21 ook oor jou waar geword oor jou. Hy weet jy het Sy evangelie, Sy goeie nuus met kinderlike opregtheid aangegryp. Daarom bid Jesus jubelend, ook oor jou: “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde. U het gesorg dat wyse en slim mense hierdie dinge nie begryp nie, maar dit tog aan klein kindertjies duidelik gemaak. Ja, Vader, so wou U dit hê.” (NNT)

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page