Die woord “vreugde” kom van die Griekse stamwoord “chara” en beteken “om buitengewoon bly te wees”. Dit is die blydskap, wat ons ervaar, wanneer ons saam met vriende of familie lag en gesels, wanneer jy suksesvol met ‘n besigheids-transaksie was of jou kind op skool presteer. Hierdie blydskap is egter afhanklik van omstandighede en mense en dit kan enige oomblik verander, van goed na sleg - dit is nie ‘n konstante nie.
Die vreugde, waarvan die Bybel praat, is egter ‘n ander vreugde as wanneer ek lekker saam met vriende kuier of as my span wen. Die Bybelse vreugde is om Jesus te ken, te weet my sonde is vergewe en ek is nou Sy kind. Dit is ‘n gevoel van tevredenheid en geluk, wat afhang van wie Jesus is, eerder as van wie ons is of wat rondom ons gebeur.
Hoe meer ek tyd saam met Jesus spandeer, hoe beter sal ek hom leer ken en op Hom vertrou. Deur stiltetyd leer ek Hom beter ken deur tyd in Sy Woord en in gebed te spandeer, of sommer net Sy teenwoordigheid geniet, wanneer ek met Hom gesels gedurende my oggendstappie en in die verkeer op pad werk toe. So word Hy deel van my lewe, word ek gevul met die Heilige Gees en word my vreugde ook eksponensieel meer - vreugde is immers ‘n vrug van die Heilige Gees.
Ek is menigmaal nie in beheer oor wat met my gebeur nie, maar daar is tog sekere goed waarin ek ‘n keuse het, waar ek in beheer is. Hierdie jaar kan ek kies om tyd by die Here te spandeer sodat ek daardie vreugde, wat net Hy kan gee, deel van my lewe maak.
As hierdie Jesus-vreugde saam met my die jaar ingaan, sal ek ook soos Paulus en Silas in die tronk kan sing, nadat hulle geslaan is. Of soos my vriend, Vijay, wat as ‘n jong man tot bekering gekom het en net daarna vir 6 maande in die hospitaal plat op sy rug moes lê as gevolg van ‘n kankeragtige gewas op sy rug. Volgens hom was dit die beste tyd van sy lewe! “Ek het tyd gehad om die Bybel drie keer deur te lees en die Here goed te leer ken. Die vreugde van die verlossing, wat ek ontvang het, het veroorsaak dat ek hierdie pyn kon hanteer.” As ek met hierdie Jesus-vreugde die jaar instap, sal dit met ‘n tenk vol hoop wees!
But if you possess faith, your heart cannot do otherwise than laugh for joy in God, and grow free, confident, and courageous. For how can the heart remain sorrowful and dejected when it entertains no doubt of God’s kindness to it, and of his attitude as a good friend with whom it may unreservedly and freely enjoy all things? - Martin Luther
Comments