Lees Galasiërs 5:21b
In hierdie gevaarlike tye waarin ons leef, wil ‘n mens soms uitroep: “Waar gaan dit alles heen? Gaan die misdadigers dan altyd wen en die goeie mense die heel tyd verloor?” Ken jy ook sulke gevoelens? Hoor dan wat skryf Paulus hier. Hy sê dat die koninkryk van God se deure toe is vir diesulkes. Nee wag, dis nie vals troos nie. Dis nie eens as troos bedoel nie. Dis ‘n feit. God se magtige poorte is toe vir bloedvergieters, misdadigers en boosaards. Sulke mense leef sonder die Gees; daarom moet hulle die konsekwensies hanteer. Hulle moet die prys betaal, wat met ‘n leefstyl gepaard gaan waarbinne God verwerp word. Hulle moet weet dat daar ‘n donker toekoms op hulle wag, vir altyd!
Wanneer die koninkryk se deure vir mense toeswaai, is alle hoop by die agterdeur uit. Dan is die ewige fees verby. Dan wag lyding, dood en nogmaals dood tot anderkant die verste ewige horison. Watter dwaasheid om ‘n leefstyl na te volg wat sulke skrikwekkende dividende uitbetaal. Waarvoor? Hoekom nie buig voor die Drie-enige God, wat lewe verniet in Christus se Naam weggee nie? Hoekom nie deel word van Sy visvangspan, wat dooies die goeie nuus gaan meedeel dat die ewige lewe hier is nie? Is jy vandag in? Gaan jy deel wees van die Goeienuusspan, wat saam met Jesus in die wêreld besig is met die verspreiding van nuwe hoop en lewe?
Gebed:
Here, wees sondaars genadig. Bring vele mense vandag tot bekering. Amen.
Comments