Paulus het by Jesus geleer. Daarom was hy seker een van die mees invloedryke leiers van die geskiedenis, in ag genome die invloed, wat hy vandag steeds het. Die agnostiese historikus, Tom Holland, beweer baie oortuigend dat Paulus se lewe en briewe soos ‘n dinamietontploffing aan die fondamente van die destydse heidense wêreld was! Toe Paulus se lewe op Aarde verby was, was daar groot krake in die praktyke en afgodediens van die heidendom, wat later byna heeltemal verkrummel het.
Maar tog was sy leierskap en “leierskapstrategie” so verbluffend eenvoudig dat ek wonder of hy eers ‘n boek sou kon skryf oor die tema. Hy het nie oor leierskap geskryf nie. Hy het leierskap gelééf. Ek twyfel of vandag se leierskapghoeroes hom sou vra om ‘n hoofstuk by te dra. Ek dink hy sou vandag se kerkleiers uiters baie frustreer het, want hy sou waarskynlik net oor Jesus en die kruis gepraat het eerder as oor sy model vir leierskap. Ek is nie eers seker of hy sy benadering ‘n “strategie” sou noem nie. Hy sou waarskynlik net gesê het: Leef die evangelie. ‘n Mens kan Paulus se leierskap in elke brief, wat hy geskryf het, sien, maar daar is veral een gedeelte, wat mooi beskryf hoe hy te werk gegaan het en dit kry ons in 1 Korintiërs 9:19-23.
“Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Dit alles doen ek ter wille van die Evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.”
So baie leiers praat vandag van diensbare leierskap, maar bedoel heel dikwels verskillende dinge daarmee. Hier gee Paulus egter ‘n prinsipiële uiteensetting van hoe dit werk.
Die diensbare Jesus-leier dien uit vryheid, gedryf deur liefde
Paulus is hier vry op ten minste twee maniere. Eerstens is hy finansieel vry. Hy is afhanklik van niemand nie en sorg vir homself. Tweedens is hy egter ook vry in dat hy kan maak wat hy wil. Hy word deur niemand verplig nie. In Galasiërs sê hy, hy staan nie meer onder die Wet nie. Hy is inderdaad vry. Sy werk waarmee hy elke dag besig is, doen hy dus uit vrye wil en vrye keuse. Hy word deur die liefde van Jesus en die kruis gedryf. Hierdie beeld kom uit die slawerny van die antieke tyd. Dikwels het families ‘n slaaf, vir wie hulle lief geword het, sy vryheid gegee. Hierdie vrye slaaf het dan gevoel dat hy so geheg geraak het aan die familie dat hy nie wil loop nie. Hy wil sy vryheid gebruik om steeds as slaaf te dien, maar dan uit sy eie wil gedryf deur sy liefde vir die eienaar en die familie.
Leierskap kan vandag baie maklik deur suiwer ambisie, bedekte selfsug, of selfs net die begeerte om suksesvol te wees gedryf word. Paulus het geensins iets soos sukses geken of nagejaag nie. In die antieke wêreld het negentig persent van die mense onder die broodlyn geleef. Gevolglik was die oorheersende doel veel eerder oorlewing as sukses. Slegs die ryk Caesar of sommige lede van sy senaat, afgetrede soldate met baie geld, het gedink aan iets soos sukses.
Trouens, navorsing is dit vandag eens, dat die beste leiers mense is wat nie die leiersposisie wil hê nie. Hulle begeer nie die mag nie. Diegene, wat instap in ‘n krisissituasie, is die leiers. Dis hierdie krisissituasie, wat hulle oproep tot lewens van diens en dikwels geweldige selfopoffering. Leonard Sweet sê:
“Leaders are neither born nor made. They’re summoned and they answer.”
Daarom moet leiers hulle motiewe gedurig krities bevraagteken.
Voorbeeld van nederige diens en opgee van persoonlike agendas en begeertes
Dis waaroor die gegewe teksgedeelte veral gaan. Paulus was ‘n Jood en sou Aramees of Hebreeus praat. Sy liefdesroeping na die heidene toe het egter van hom gevra dat hy eerder in die Grieks-Romeinse wêreld moet funksioneer as in sy eie gemaklik Joodse agtergrond en omgewing. Hy moes sy moedertaal opgee en kies om elke dag Grieks te praat. Sy daaglikse Joodse gebruike, wat nie sin gemaak het in die Grieks-Romeinse omgewings nie, moes hy laat vaar om vir die res van sy lewe meestal tussen heidene te leef. Ons praat nie eers van al die ontberinge, vervolgings en ongemak, wat hy moes verduur nie. Dít was sy openbare beeld en getuienis. Die littekens van Christus aan sy eie lyf, was sy handelsmerk. Trouens, dis presies wat hy sê deur die woord stigmata te gebruik terwyl hy aan die Galasiërs skryf. Dit beteken merk of handelsmerk (of Eng. brand).
Roep ander op tot dieselfde liefdesdade
Eers dan sê hy in ‘n hoofstuk later (1 Kor 11:1): “Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Christus volg.”
Vind eers jou identiteit in Jesus, stel dan die voorbeeld deur persoonlike selfopoffering en roep dan ander op om dit ook te doen. Is dit nie die beste vorm van leierskap nie? Doen wat julle my sien doen - dis hoe Paulus gelei het.
Ek besef dat leierskap en veral die teorie agter leierskap nog baie meer behels as wat hier beskryf word. Maar as iemand, wat self in leierskap staan in gemeentes sowel as in besigheidsomgewings, besef ek al hoe meer dat hierdie voorbeeld van Jesus, uitgeleef deur Paulus, die hart van énige Christenleier se leierskapsfilosofie moet wees.
Net só kan ons gesonde, vry en dienende gemeenskappe vorm.
Comments