Om die leier van ‘n land te wees, soos ‘n president of ‘n eerste minister, is die blykbaar die mees stresvolle werk om te kan hê. So beweer ‘n onlangse Amerikaanse Gallup-studie, wat die vraag gevra het oor wat die veeleisendste beroepe in die wêreld is. Die enorme hoeveelheid druk en gewig wat daar op so iemand se skouers rus, is geweldig. Die hoeveelheid wysheid, strategiese insig en verstaan van ‘n wye verskeidenheid van sake, vanaf die ekonomie tot internasionale verhoudinge, waaroor so iemand moet beskik, is wyd, al het ‘n president ‘n hele span mense, wat hom hieroor help dink. ‘n Mens sou dink dat ‘n landsleier uiters baie wysheid en advies nodig het.
In die onlangse fliek, Reagan, waarin Dennis Quaid die rol speel van oudpresident Ronald Reagan, sien ‘n mens die belangrikste advies, wat Reagan se ma ooit vir hom gegee het, was toe hy besluit het om die president van Amerika te word. Reagan se ma was gelowig en ‘n mens sou wonder watter advies ‘n president se ma vir hom sou gee. Sommige ma’s gee die beste advies want hulle gee wérklik om vir hulle kinders, en hulle is dikwels so wys. Sy het eenvoudig vir hom gesê:
“Remember Who’s you are, and Whom you serve.”
Dis it. So eenvoudig. Niks meer nie en niks minder nie. Reagan, die magtigste man in die destydse Westerse wêreld, het later jare erken hoe hierdie woorde hom in die Jesus-realiteit gevestig het. Dit sê die twee belangrikste dinge, wat jy van jouself moet weet aan die begin van ‘n nuwe jaar:
Jy is geliefd, want jy behoort aan die Vader.
Jy het boonop ‘n doel hier, in hierdie unieke tyd in die geskiedenis. Diens aan Hom is jou roeping.
Dalk moet ons eerder praat van nuwejaarsgewaarwordings as nuwejaarsvoornemens. Ons moet tog eers bewus wees van die diepste realiteit, God, en dan ‘n voorneme maak. As hierdie paar woordjies een van die magtigste mense in die wêreld kon begeester en adviseer, dink wat dit ook vir ons kan doen. Soms het mense nie nog ‘n boek nodig, of selfs ‘n kursus of artikel nie. Soms moet hulle net hoor: Weet aan Wie jy behoort en weet Wie jy dien. Dis al. Hierdie Godgegewe advies kan jou deur die donkerste, moeilikste en uitdagendste tye dra.
Dankie, Here.
Comments