top of page

Die Here sien jou raak

Helena Smith

Helena Smith skryf in haar nuutste My Lewe nuusbrief oor Genesis 21 en herinner ons dat die Here ons raaksien.
Die Here sien jou raak

Word jy dalk jaar na jaar oorgesien vir ‘n bevordering by jou werk, al voel dit vir jy asof jy dit verdien? Voel dit dalk vir jou asof jou huweliksmaat jou nie raaksien nie en jou afskeep? Dalk voel dit vir jou asof jou kinders jou nie genoeg waardeer nie.


In Genesis 21 lees ons die verhaal van Hagar, Sara se slavin, wat ‘n kind by Abraham gehad het. Sara het na Isak se geboorte nie van die idee van nog ‘n erfgenaam op die werf gehou nie. Sy het dus by Abraham aangedring om vir Hagar in die pad te steek. Hagar het vertrek en in die woestyn van Berseba rondgedwaal. Haar kos en water het later opgeraak en sy het vir Ismael onder ‘n bos neergesit en ‘n ent van hom af gaan sit. Sy wou nie sien hoe hy van honger en dors omkom nie. Sy het hardop begin huil. Sy, wat deur die pa van haar kind verwerp is. God het toe ‘n engel na haar gestuur, wat vir haar gesê het dat God haar seun se gehuil gehoor het. In Genesis 21 verse 18 en 19 lees ons wat die engel gesê het: Staan op, tel die seun op en hoe hom styf was, want tot ‘n groot nasie wil ek hom maak. God maak toe haar oë oop en sy sien ‘n put! Sy loop toe, maak die watersak vol en laat die seun drink.


Dit is vir my net so verstommend oor hoe die Here in ‘n nederige slavin se behoeftes voorsien het en dat Hy haar nood raakgesien het. In party vertalings van die Bybel lees ons dat Hagar God van toe af El Roi genoem het. Dit beteken in Hebreeus: die God wat my raaksien.

Jare gelede het ek vir die VCSV gewerk en moes gereeld voor kinders en onderwysers praat. Daar kry ek toe twee keer na mekaar, paniekaanvalle, terwyl ek voor mense optree. Dit was vir my baie sleg, want ek was mal oor my werk. Dit was ook nogal ‘n vernedering vir my. Eendag, voordat ek weer voor mense moes optree, het ek by God gesmeek om my tog te help. ‘n Paar minute later bel ‘n man uit Kwazulu-Natal my. Ek het hom glad nie geken nie. Hy sê toe vir my dat hy en sy omgeegroep my foto in die VCSV-nuusbrief gesien het en dat hulle vir my bid. God het my nood raakgesien!


As jy voel dat jy nie raakgesien word nie, praat met God daaroor. Hy het jou baie lief en sien jou raak, net soos Hy vir Hagar raakgesien het.

Commentaires


bottom of page