Mense praat graag van “die naakte waarheid”. Beteken dit leuens het klere aan? Loop halwe waarhede halfpad geklee met pantoffels aan rond? Is 50% van die waarheid steeds die waarheid? Is die res, wat weggelaat en verswyg word, nie wat eintlik vertel moes word nie? Wat van sogenaamde wit leuens? Is hulle nie eintlik pikdonker nie?
Die waarheid hoef nooit in skynheilige versierings opgetooi te word nie. God se waarheid kan enige lig hanteer. Dit kan enige donkerte verdryf. Die waarheid steek niks weg nie. Dit is nie agteraf nie. Waarheid is altyd oop en bloot. Dit is sigbaar, hoorbaar en deursigtig. In God se woordeskat is daar nie plek vir leuens nie. Om met leuens en onwaarhede saam te leef, is om in die donker te leef. Jesus waarsku dat sulke donkertes nie vir altyd toegesmeer kan word nie. Sy lig skyn in enige donkerte in. Daarom huisves ons as kinders van God nie leuens in ons lewe nie. Daarom raak ons nie onwaarhede kwyt nie en het ons dit ook nie lief nie. Ons praat en leef God se waarheidstaal. Ons weet immers ook dat waarheid ‘n Persoon is - Jesus Christus! Hy is die waarheid in lewende lywe! Op Sý pad seëvier die regte soort waarheid padlangs.
Comments