top of page

Die soort liefde wat Suid-Afrika van Christene nodig het

  • Roedolf Botha
  • 8 hours ago
  • 3 min read

𝘉𝘰𝘳𝘪𝘭𝘭𝘢 𝘥𝘪𝘦 𝘚𝘭𝘢𝘨𝘵𝘦𝘳, het hulle hom genoem. Dié bynaam het hy gekry, omdat hy soveel Jode in die vroeë veertigerjare van die vorige eeu, in Roemenië doodgemaak het. Dit was tydens die Tweede Wêreldoorlog en hy was ‘n Roemeense huursoldaat, wat vir die Nazi’s gewerk het. Hy het soveel Jode op die grens van Roemenië doodgemaak, dat hulle hom later moes terugstuur na sy tuisstad, Boekarest, omdat daar geen Jode meer gevind kon word om uit te wis nie. Wat hy nie geweet het nie, was dat sy lewe op die punt was om te verander. Dinge sou verander as gevolg van die enigste oorblywende familielid van een van die Joodse families, wat hy uitgewis het.


Haar naam was Sabina Wurmbrand en sy was getroud met ‘n predikant, genaamd Richard. Hulle was eers ateïste, maar het later tot geloof gekom en die Goeie Nuus van Jesus passievol aan alle Roemeense mense, wat hulle pad gekruis het, verkondig. Hulle het ook Jode in hulle huis weggesteek, sodat die Duitsers hulle nie kon vind nie. Richard self was drie keer in die tronk as gevolg van sy geloof en waagmoed, en Sabina twee maal. Elke keer is hulle gemartel en geslaan om te moet vertel waar hulle die Jode wegsteek. Moedeloos en sonder enige inligting, behalwe die Goeie Nuus van Jesus, wat in hulle ore weerklink het, moes die Duitsers hulle elke keer maar net weer laat gaan. Na die eerste keer wat Richard deur die soldate verniel is, vra sy vrou vir hom hoe hy voel, waarop hy antwoord:


“𝘋𝘢𝘢𝘳 𝘸𝘢𝘴 𝘣𝘢𝘪𝘦 𝘱𝘺𝘯 𝘦𝘯 𝘮𝘺 𝘭𝘺𝘧 𝘪𝘴 𝘴𝘦𝘦𝘳. 𝘌𝘬 𝘸𝘢𝘴 𝘦𝘨𝘵𝘦𝘳 𝘣𝘦𝘷𝘰𝘰𝘳𝘳𝘦𝘨 𝘥𝘢𝘵 𝘦𝘬 𝘢𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘬𝘢𝘯𝘵 𝘸𝘢𝘴 𝘷𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦𝘨𝘦𝘯𝘦 𝘸𝘢𝘵 𝘨𝘦𝘴𝘭𝘢𝘢𝘯 𝘪𝘴 𝘦𝘯 𝘯𝘪𝘦 𝘢𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘬𝘢𝘯𝘵 𝘷𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘴𝘭𝘢𝘯𝘦𝘳𝘴 𝘯𝘪𝘦.”

Eendag hoor Richard dat Borilla die Slagter terug in die stad is en hy hoor ook waar hy woon. Hy vertel egter niks hiervan vir Sabina nie, maar daardie nag kon hy nie slaap nie. In die middel van die nag staan hy op en gaan na die huis van Borilla. Aangesien Borilla nie geweet het wie Richard en Sabina was nie, aanvaar hy Richard se uitnodiging om by sy huis iets te ete te kom kry. Toe Borilla sy voete in die Wurmbrands se huis sit, begin Richard hom van Jesus vertel. Hy vertel vir Borilla dat Sabina, die enigste oorblywende familielid van ‘n familie, wat hy uitgemoor het, net hier in die kamer langsaan slaap. Teen hierdie tyd wou Borilla niks weet nie en was sy enigste begeerte om uit te storm en terug huis toe te hardloop. Richard haal hom egter oor om te bly en hy gaan maak vir Sabina wakker om vir haar te vertel dat die moordenaar van haar familie in hulle sitkamer staan. Sonder ‘n woord het Sabina opgestaan, na Borilla toe gestap, haar arms om hom gegooi, hom vasgedruk, op sy wang gesoen en gefluister:


“𝘊𝘩𝘳𝘪𝘴𝘵𝘶𝘴 𝘩𝘦𝘵 𝘮𝘺 𝘷𝘦𝘳𝘨𝘦𝘸𝘦. 𝘏𝘺 𝘴𝘢𝘭 𝘫𝘰𝘶 𝘰𝘰𝘬 𝘷𝘦𝘳𝘨𝘦𝘸𝘦. 𝘚𝘪𝘵, 𝘥𝘢𝘯 𝘨𝘢𝘢𝘯 𝘮𝘢𝘢𝘬 𝘦𝘬 𝘷𝘪𝘳 𝘫𝘰𝘶 𝘬𝘰𝘴.”

Daardie nag verander ‘n moordenaar se identiteit van 𝘉𝘰𝘳𝘪𝘭𝘭𝘢 𝘥𝘪𝘦 𝘚𝘭𝘢𝘨𝘵𝘦𝘳, na 𝘽𝙤𝙧𝙞𝙡𝙡𝙖 𝙙𝙞𝙚 𝙠𝙞𝙣𝙙 𝙫𝙖𝙣 𝙂𝙤𝙙. Hy sluit aan by die Wurmbrands se groepie gelowiges. Saam met hulle het hy talle Roemeense Jode, sowel as ander mense en selfs soldate se lewens gered. Ek het al soveel keer gewonder hoe ons mooi land anders sou wees, indien die volgelinge van Jesus hierdie soort liefde sou openbaar teenoor mekaar en aan almal anders, ook ons vyande in Suid-Afrika. Dis tog hoe die liefde van Jesus in lewende lywe lyk.


In Sabina se joernaal skryf sy die volgende woorde:


“𝘐𝘯 𝘮𝘺 𝘨𝘢𝘯𝘴𝘦 𝘭𝘦𝘸𝘦 𝘩𝘦𝘵 𝘦𝘬 𝘯𝘰𝘨 𝘴𝘭𝘦𝘨𝘴 𝘵𝘸𝘦𝘦 𝘮𝘢𝘯𝘴 𝘨𝘦𝘴𝘰𝘦𝘯. 𝘋𝘪𝘦 𝘦𝘦𝘳𝘴𝘵𝘦 𝘦𝘦𝘯 𝘸𝘢𝘴 𝘮𝘺 𝘦𝘪𝘦 𝘮𝘢𝘯. 𝘋𝘪𝘦 𝘵𝘸𝘦𝘦𝘥𝘦, 𝘥𝘪𝘦 𝘮𝘢𝘯 𝘸𝘢𝘵 𝘮𝘺 𝘧𝘢𝘮𝘪𝘭𝘪𝘦 𝘶𝘪𝘵𝘨𝘦𝘮𝘰𝘰𝘳 𝘩𝘦𝘵.”

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page