Die wêreld sal aangaan sonder my
- Roedolf Botha
- Apr 8
- 2 min read
Die ou Grieke het geglo dat om van jou eie sterflikheid bewus te wees, uiters noodsaaklik is. Dis noodsaaklik, want dit herinner jou aan jou plek in die wêreld. Dis waarom Zeus vir Prometheus so kwaad was, want toe Prometheus vir die mense vuur skenk, vergeet die mens dat hy sterflik is. Dit gaan nie oor jou nie - so het die Grieke geglo. Jou eie sterflikheid herinner jou dat jy jou tyd in hierdie lewe moet uitkoop en mooi moet bestuur, want dis beperk. Jou lewe is beperk, jou mag is beperk, jou intelligensie is beperk, jou geleenthede is beperk. Dit moet jou herinner dat dit nie oor jou gaan nie.
Nou die dag kyk ek weer na al die jare die ou bekende fliek, My Fair Lady. In een van die eindtonele van die prent sing Elisa Doolittle vir die professor woorde, wat hy broodnodig het om te hoor. Hy was ‘n sterk karakter, in beheer van sy wêreld. Sy eie briljantheid het egter veroorsaak dat hy baie op homself gefokus het en opgetree het asof die wêreld om hom draai. G’n mens kan ‘n sinvolle verhouding met so iemand hê nie. Sy selfgerigtheid lei toe tot ‘n konfrontasie tussen die twee, waar Elisa onder andere vir hom die volgende sing:
O my reverberating friend, you are nót the beginning and the end ...
There'll be spring in the air without you.
England still will be here without you.
There'll be fruit on the trees and a shore by the see,
There'll be crumpets and tea without you.
Art and music will thrive without you.
Somehow kids will survive without you.
And there still will be rain on that plain down in Spain, that fact will remain without you!
I can do without you!
Ons weet dat ons, in Jesus, geliefde kinders van God is, dat ons uiters waardevol vir ons Here is. Ons weet dat Hy ons liefhet en Sy lewe vir ons afgelê het. Ons weet daarom ook dat ons ‘n ewige lewe saam met Hom tegemoet gaan.
Om sinvol te kan funksioneer in hierdie lewe, moet ons tog altyd weet wat ons plek is. In hierdie selfbehepte, selfsugtige en selfgesentreerde selfiewêreld, met sy narsissistiese geneigdhede, moet ek soms hoor dat dit nie oor my gaan nie. Jesus is die Here, nie ek nie. Die seisoene sal kan aangaan sonder my. Suid-Afrika, sy mooi weer, die reëns, die politiek, die rugby, die boerdery, selfs my familie sal sonder my aangaan. Al is ek hoe slim, hoe gesond of hoe begaafd, ek is nie die bron van lewe nie. God is. Dis bloot gesonde perspektief, wat ek uiters nodig het. Paulus het beweer dat die lewe vir hom Christus is en sy eie sterwe wins is, want wanneer hy sterf, dan is hy by die Een, wat saak maak en wat lewe gee. Johannes die Doper se begeerte was om minder te word sodat Jesus meer kan word. Slegs wanneer ons ons plek in die lewe ken en onthou, kan ons ons Godgegewe rol in die wêreld deeglik vervul.
Soms het elkeen van ons nodig om die woorde te hoor:
O my reverberating friend. You are nót the beginning and the end ...
Bình luận