top of page

Die ware skatte van die kerk is …

  • Stephan Joubert
  • Mar 28
  • 1 min read

Teks: Lukas 14:14


’n Ou priester is een nag deur twee rowers oorrompel. “Wat wil julle hê?” het hy gevra. “Ons wil jou kerk se skatte hê,” het hulle geantwoord. “Ons het gehoor jy praat dikwels oor jou kerk se rykdom. Nou wil ons dit vir onsself hê.” Net daar het die priester ingewillig om al die kerk se skatte vir hulle gee. Toe het hy die rowers na die kerk se kelder geneem. Daar het hy vir hulle al die armes gewys aan wie hy daardie nag slaapplek in die kerk gegee het. “Hier is die kerk se skatte,” het hy gesê. “Hierdie mense is ons ware rykdom. Ons dien hulle met die liefde van die Here.” Die rowers het toe daardie nag met leë hande weggestap, maar wat ‘n les! 


Inderdaad is armes kosbare mense in die oë van Jesus. Hulle moet die volgende gaste by jou feesmaal wees. Só sê Jesus in Lukas 14. Mense, soos die armes, kreupeles, lammes en blindes is volgens Jesus die belangrikste gaste op jou lys vir enige nuwe fees. By jou moet hulle nie net elke keer ou brood en ou klere kry nie. In jou geselskap mag hulle nooit twee maal verneder word deur maar stilswyend te aanvaar wat hulle kry nie. Bederf ’n slag mense wat nood ervaar en arm is met beter kos, beter klere, goeie komberse en met hoop. Dan sal jy jouself gelukkig ag, omdat God self van jou optrede kennis geneem het. Eendag sal Hy jou hiervoor prys, soos wat Jesus vertel. 


Gebed: Here, maak my oë oop vir mense in nood. Maak my hart en my hande ook oop.

Commenti


Non puoi più commentare questo post. Contatta il proprietario del sito per avere più informazioni.
bottom of page