
Jy verloor jou morele kompas, wanneer jy selfgesentreerd leef. Dit is aan die orde van die dag wanneer jy gedurig dink: “What’s in it for me?” Dan verander ander mense rondom jou in pionne, wat jy op jou eie skaakbord rondskuif om jouself te bevoordeel. Dan word God se rol in jou lewe aangepas tot die Een, wat jou eintlik net moet seën en voorspoedig maak. Dan dien jy die Here sodat … sodat Hy dinge vir jou moet doen wat jyself nodig het. Dan dien jy die Here nie ten spyte van nie … ten spyte van terugslae en moeilikhede in jou lewe.
Moenie vanjaar jou morele kompas verloor nie. Luister wanneer die Here aan jou deur kom klop. Hoor wanneer Hy jou in die taal van Deuteronomium 6 oproep om Hom heel eerste lief te hê en om Hom te dien met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand. Keer dat jou lewe in hierdie nuwe jaar net om jouself begin draai. Draai betyds weg van hierdie doodlooppad. Draai vorentoe. Draai na die Here toe! Laat Sy Gees jou padaanwyser wees. Dan gaan jy in 2023 die Here se groen weivelde weer en weer ontdek.
Comments