top of page

Dubbele burgerskap

  • Alet Gardner
  • 3 days ago
  • 2 min read

Brink en ek woon en werk reeds 25 jaar in Brittanje en het dan ook Britse burgerskap verkry. Ons was gelukkig in staat om ons Suid-Afrikaanse burgerskap te behou – Suid-Afrika is immers ons albei se geboorteland en Afrikaans ons hartstaal. 


Wanneer die Britse Leeus rugby speel, ondersteun ons hulle heelhartig. Ons ken die spelers, weet wie die afrigter is en is saam bly wanneer hulle ‘n oorwinning behaal. Behalwe natuurlik wanneer hulle die Springbokke aandurf! Laasgenoemde is immers óns span, óns mense se verteenwoordigers. 


Petrus se waarskuwing dat ons moet onthou dat ons “uitlanders en bywoners” is (1 Petrus 2:11 NLV), herinner my daaraan dat my ware identiteit, my ware burgerskap een van die ewige koninkryk van Jesus Christus is. Ek moet dit altyd onthou en dan ook waar ek ookal gaan, die waardes van my eintlike burgerskap uitleef. 


Hoe behou ek die waardes, die taal van my ware burgerskap van die Koninkryk waarin ek gebore (weergebore) is? Deur die geskiedenis, die handleiding te bestudeer en dit as ‘n lewenswyse te beoefen, waar ek my ookal bevind. Wanneer ek persoonlike tyd met die handleiding (die Bybel) en gebed (gesprek met God) deurbring en ook tyd saam met ander “burgers” van hierdie Koninkryk spandeer, word ek versterk in my identiteit. So raak ek ook toegerus om in die ander “koninkryk” van die wêreld, waarin ek my bevind, iets van hierdie kosbare waarhede uit te leef. 


My Suid-Afrikaans aksent gee gewoonlik my identiteit weg. So behoort my taalgebruik en lewenswyse in hierdie “ander koninkryk”, waarin ek my bevind, ook iets van die goedheid, die mooi en grasie van my eintlike Koninkryk te laat uitstaan. Dit kan daartoe aanleiding gee dat iemand van die ander “koninkryk” geïnspireer raak om iets van hierdie Koninkryk, waaraan ek behoort, te leer ken en dalk so verlief daarop raak dat hy / sy besluit om self hierdie nuwe “burgerskap” aan te neem. Wat ‘n voorreg en vreugde sal dit nie wees om een van hierdie ander vriende of kennisse van my aan my Koning voor te stel nie!  Johannes 3:16 praat so van hierdie Koning:


“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (NLV)

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page