top of page
Roedolf Botha

Een van die belangrikste Jesus-beginsels is ook die ongewildste

In een van die eerste drie gewilde Indiana Jones-flieks, Indiana Jones and the Last Crusade, was die hoofkarakter, ‘n argeoloog, op soek na die Nagmaalbeker van Jesus Christus. Na ‘n lang soektog, met euwel booswigte, wat natuurlik ook agter die beker aan is ter wille van die geld en mag, wat dit hulle sou bring, vind Indiana Jones uit waar hierdie kosbare historiese beker gehou word. In ‘n afgeleë tempel in die hartjie van Afrika, bevind hulle hulself dus op die punt om die beker te ontdek. Om egter te kom tot waar die beker presies gehou word, is nie so maklik nie. Daar is drie toetse, wat geslaag moet word deur enige iemand, wat die beker wil bekom. Hierdie drie toetse evalueer die geestelike waardigheid en karakter van die persoon, wat die beker wil hê. Die avonturiers en soekers, wat die beker slegs vir hulle eie gewin wil hê, wat nie die toetse slaag nie, gaan dan hulle dood tegemoet.


Elkeen van die drie toetse het egter ‘n raaisel, ‘n sleutel tot die toets, wat kan veroorsaak dat hulle die toets kan slaag, indien hulle dit reg interpreteer. Die eerste toets se leidraad sê eenvoudig:


Only the penitent man shall pass.

Slegs boetvaardige mense, mense wat bewus is van hulle eie menslikheid en sterflikheid en mense, wat berou het oor hulle sonde, kan hier verbykom. In die fliek het die eerste paar mense, wat sonder hierdie leidraad probeer deurkom het, gesterf. Toe Indiana Jones egter deurgaan, toe kniel hy en skuif op sy knieë deur en hy maak dit! Nederige mense kniel. Sonder kniel is daar geen redding nie.


Boetvaardige, nederige mense weet hoe afhanklik hulle van God is. Hulle weet hulle kan slegs, in nederigheid, op God se genade staatmaak. Hulle ken hulle plek. Hulle kniel. Hulle ontvang God se seën. Jesus se eerste saligspreking lui: “Geseënd is die armes van gees.” Die 1983-vertaling noem hulle mense, wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Hulle is geseënd, want hulle slaag die toets. Hulle kom met leë hande en kaal voete. Hulle weet hulle kan God niks uit hulle eie bied nie. Hulle het Hom broodnodig en Hom alleen. Die koninkryk is dus nie vir mense, wat belangrik wil wees nie.


Vandag wil almal egter belangrik wees. Niemand wil nederig wees nie. Heldhaftigheid, krag en sukses is wat mense inspireer. Nederigheid klink so vaal, so kleurloos, so kragteloos en leeg. Almal wil soos Hugh Jackman of Angelina Jolie wees. Niemand wil soos Moeder Teresa wees nie. Ja, almal sê hulle bewonder Moeder Teresa, maar niemand rig hulle lewens in om soos sy te leef nie. Tog is nederigheid, minsaamheid die krag van God. Soos die kruis. Almal wil die opstanding in hulle lewens beleef, maar niemand wil op hulle knieë deur die kruis gaan nie. Almal wil volgens die nuwe gier aantrek, maar niemand wil slaweklere aantrek nie. Ons babas moet nuwe klere kry, nie hand-me-downs nie.


Tog leer die Bybel ons dat op ons knieë deurkruip die koninkryk in. Dis die pad na lewe. Dis die pad na God.


Only the penitent man shall pass. Geseënd is die armes van gees ...

コメント


コメント機能がオフになっています。
bottom of page