top of page

Ek het nie ‘n standaardpraatjie oor Jesus vir 2025 nie

Stephan Joubert

Net soos wat ekself nie ‘n spesifieke resep het om oor my vrou of kinders te praat nie, het ek ook nie ‘n standaard praatjie oor Jesus nie. Ek het geen tegnieke, planne en strategieë in plek om mense te probeer bekeer nie. Filippense 1:21 is my enigste kompas, naamlik dat Jesus my lewe is. Ek praat spontaan oor Hom. Ek leef nie in verskillende kompartemente vanaf geestelik tot minder geestelik nie. Of vanaf kerk tot werk nie.


Ek leef my een en enigste lewe oop en bloot voor die Here en tussen mense. Daarom praat ek op dieselfde manier oor Jesus as wat ek oor my familie en vriende praat. As jy my dalk oor my vrou sou uitvra, sal jy hoor van my liefde vir haar. Hopelik sal jy dit ook sien, wanneer ons bymekaar is. Dit is hoe ek oor haar “getuig”, as jy wil. Dieselfde geld my kinders, my dierbare skoonseuns en my pragtige kleinkind. O ja, dit geld ook vir al my vriende. Ek praat graag mooi oor hulle agter hulle rug , want ek is vir hulle almal lief. Ek probeer om altyd ook ‘n lekker mens te wees as ek by hulle almal is. Op dieselfde manier verstaan ek my eie getuienis oor Jesus. Ek praat altyd mooi oor Hom tussen ander mense. Ook probeer ek om mooi te leef in Sy teenwoordigheid. Dit is my grootste begeerte dat Hy met my lewe tevrede is. Wanneer ek ook een tot Een met God in gebed praat, sê ek heel eerste vir Hom dankie vir Sy onbeskryflike goedheid en genade. Ek dink dis hoe ek oor die Here hier in 2025 getuig. 

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page