top of page

Ek roem elke dag oor God se genade en oor my liefde vir Hom

Stephan Joubert

Ek lees iewers die volgende: “Ons kan nie oor ons liefde vir God spog nie, want ons faal Hom elke dag. Maar ons kan wel spog oor Sý liefde vir ons.” Toe dink ek by myself dat net een helfte hiervan waar is. Die ander helfte klink na ‘n flouerige verskoning. Deel een is waar. Ons kan roem in ons liefde vir die Here. Maar deel twee is nie in die kol nie. Ek praat van daardie woorde: “ons faal Hom elke dag.” Ja, ons as gelowiges faal God soms. Ons struikel partykeer. Maar daagliks … aanhoudend … nimmereindigend? As dit waar sou wees dat ons daaglikse godsdienstige falers is, is daar baie groot fout in ons lewe. Dan bevind ons onsself op ‘n baie slegte plek in ons verhouding met die Here. 


Opmerkings soos hierdie, dat ons God daagliks faal, word maklik tot algemene waarhede verhef. Mense deel dit  blindelings op sosiale media. Ander beaam dit met “likes.” Maar dis gewoon nie waar as ons van harte in die Here glo dat ons nimmereindige falers, droogmakers, geestelike mislukkings of wandelende teleurstellings vir God is nie. 


Kom ons draai gou hierdie misplaaste stelling, dat ons die Here daagliks faal, ’n slag om na ons eie kant toe. Dink net wat sal ons eie huweliksmaats sê as ons elke dag sou sê ons faal hulle. Of as ons elke dag sê ons het hulle nie lief genoeg nie. Of as ons sou sê ons is nie elke dag aan hulle getrou nie. Dan gaan ons blitsvinnig in baie groot moeilikheid wees. Hoeveel te meer geld dit nie van God nie. Om Hom daagliks te faal, is om Sy Gees se werk in ons lewe direk en moedswillig te weerstaan. Dit is die Heilige Gees Self, wat vir ons elkeen ’n nuwe hart gegee het. Hyself briek die mag van boosheid in ons lewe. Hy laat ons heilig leef. Hy laat ons God van harte liefhê. Hy laat ons met harte vol liefde vir ander mense rondom ons leef. Die Gees laat nooit toe dat ons in ons eie sondes rondlê nie. Hy vul ons met innige berou, as ons God faal. Hy kry ons dadelik weer terug op die regte pad. Die Gees laat Sy eie vrug gedurig vorm in ons lewe vorm aanneem. Daarom roem ons daagliks oor die Here én oor ons liefde vir Hom.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page