Gee aan ander met Christus-vreugde en dankbaarheid
- Elmarie van der Westhuizen
- Feb 13
- 2 min read
Updated: Feb 14
“We serve God by serving others.” - Rick Warren
Elkeen van ons het iets om te gee, of dit nou tyd, talente of geld is. Dit waaroor ek beskik, is ‘n geskenk uit God se hand. “God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God, wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help.” 1 Petrus 4:10 DB
Om ander met vreugde te dien, is ‘n voorreg, wat ek as Christen het. Dat ek nie altyd so gewillig is om te dien nie, is egter ook ‘n realiteit. Menige liefdadigheids-organisasies of kerke vind dat 20% van die mense 80% van die werk doen. Die hartseer feit is dat die 80% waarskynlik nie besig is met enige vorm van diensbaarheid nie.
Sit ek heerlik in die kerk op Sondae, maar doen niks die res van die week om die armes en siekes se nood te verlig nie? (Daar is immers ander, wat dit kan doen en ek self het belangriker dinge om te doen.)
My diensbaarheid sê iets van my verhouding met God - dis ‘n weerspieëling van wat in my hart aangaan. Dit gaan nie hier om my saligheid deur dade te verdien nie, maar of ek die Heilige Gees toelaat om my gedagtes én gedrag te verander. So sal ‘n hart, wat oorloop van liefde vir God en vir ander, ook sigbaar word in dade, in hulpverlening aan ander.
Soos met alles, wat ek vir die Here gee, moet ook my gesindheid een van vreugde en dankbaarheid wees, wanneer ek ander dien, hierdie innerlike vreugde wat gegrond is op die wete dat ek gered is en nou deel is van Sy koninkryk. God het immers ‘n blymoedige gewer lief (2 kor 9:7). Psalm 100 roep ons op om die Here met vreugde te dien, “Dien die Here met blydskap. Kom voor Hom en sing met vreugde!” En hierdie blydskap, as vrug van die Gees, hierdie Jesus-vreugde stel my in staat om met die regte gesindheid te gaan dien, ook wanneer dit moeilik is.
God het lank gelede reeds besluit dat ons ons lewens sal gebruik om ander te dien.
(Ef 2:10) Ons moet net aanmeld vir diens!
Ek kan aanmeld by ‘n plaaslike liefdadigheidsorganisasie, wat ‘n tekort aan helpers het, of by die talle liefdesprojekte, waarmee ekerk besig is. Klein liefdesdade sê baie – die bak van ‘n baksel koekies vir my bure om te sê ek gee om, die skenk van bloed, of saamwerk aan ‘n fondsinsameling vir armes. Moeder Teresa het haar hele lewe aan liefdadigheidswerk gewy en het die lewens van duisende mense verander. Dit het egter begin by een mens oor wie sy haar ontferm het. Kom ons begin ook net by die een liefdesdaad …
留言