top of page
Stephan Joubert

Gee die aflosstokkie van geloof mooi aan in 2025

Charles Williams (1886 - 1945) het gesê: “There is no other institution that suffers from time so much as religion.” Skaars het een generasie die Here se Woord gesnap, of hulle tyd is oor en verby. Dan is dit weer ’n volgende generasie se verantwoordelikheid. Indien die aflosstokkies van geloof egter nie reg oorgegee word nie, kan ’n volgende generasie groot geestelike skade ly. So iets het juis gebeur na die tyd van Josua. Rigters 2:10 vertel vir ons hoe hy en die leiers van sy tyd tot sterwe gekom het. Die volgende generasie het egter niks van al God se groot dade geweet nie. Hulle het die Here ook nie gedien nie.


Kom ons herinner mekaar eers net weer daaraan dat God se Woord ewig is. Nie eens die poorte van die doderyk sal die boodskap ooit stilkry dat Jesus die Here is nie. Maar dit onthef nie een van ons van ons roeping om die evangelie met integriteit uit te leef nie en om dit verantwoordelik verder aan te gee nie. Kom ons het daarom een groot nuwejaarvoorneme vir 2025. Kom ons besluit dat God se Woord nie hier in 2024 by onsself tot stilstand gaan kom nie. Ons sal ons geloof helder uitleef, oorvertel en verder aangee. Ons en ons families sal die Here met oorgawe dien in 2025 dien. Ons sal nie toelaat dat die lig van die evangelie tydens ons diensbeurt vir die Here verdof nie.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page