Geen slaaptydstorie nie
- Stephan Joubert
- 3 days ago
- 1 min read
’n Storie was die laaste strooi. Ek praat van Jesus se gelykenis van die huurders van die wingerd (Markus 12:1-12). Jesus het dit op die Dinsdag kort voor Sy kruisiging vertel. Dit was terwyl Hy op die tempelterrein in Jerusalem mense vir oulaas geleer het. Hierdie verhaal handel oor die huurders van ’n wingerd, wat geweier het om huur te betaal. Toe stuur die eienaar sy werkers om sy agterstallige huurgeld in te vorder. Hulle is een na die ander mishandel of doodgemaak Uiteindelik stuur die eienaar toe sy eie seun om die geld te gaan haal, maar toe vermoor die huurders hom ook.
Dadelik het die godsdienstige leiers van Jerusalem besef dat Jesus na hulle verwys as die wrede huurders en na Homself as die Seun van die hemelse Eienaar. Toe besluit hulle daar op die plek Hy moet stilgemaak word.
Jesus se verhale is steeds lewensgevaarlik. Dit is definitief nie slaaptydstories nie. Sy gelykenisse vertel ons van ’n vars nuwe wêreld, God s’n. Dit sê dat God se koninkryk in ons midde is, dat Jesus die hartklop van hierdie nuwe koninkryk is.
Jesus se verhale verander Homself in ‘n gevaarlike besoeker, indien ons Sy verhale afmaak as ligte slaaptydvermaak. As ons egter reg na Jesus se verhale luister en Hom hartlik in ons lewe verwelkom, is Hy meteens by ons as die Here aanwesig.
Kom ons kies dan hier in Paastyd om reg na Jesus te luister. Kom ons verwelkom Hom as ons Heer. Kom ons verheerlik Hom met ons hele lewe.
コメント