top of page

Geheimsinnige Moordstories of Jesus-lewe

Roedolf Botha

Een soort fliek, wat ek en my vrou baie graag saam kyk, is die sogenaamde murder mysteries. Ons is al deur ‘n paar Britse reekse genaamd Midsomer Murders, Lewis, Murdoch Mysteries en Rosemary and Thyme. Meer bekend is sekerlik reekse soos die Agatha Christie-verhale, die Murder She Wrote-televisiereeks en ander who-dunnit-stories, wat in die laaste jare baie gewild geraak het. Ek dink ook aan die twee onlangse Knives Out-flieks met Daniel Craig in die hoofrol. Wat gewoonlik kenmerkend van hierdie soort verhale is, is die kyker se raaiery deur die loop van die verhaal oor wie die moordenaar is. Dan is daar die verrassing aan die einde van die storie, wanneer die geheim ontrafel en die skuldige ontmasker word. Die verrassing lê gewoonlik daarin dat dit, in die kyker se oë, die mees onwaarskynlike persoon in die storie is wat die moord gepleeg het. Heel dikwels is die moordenaar eintlik iemand met ‘n oënskynlik karaktervolle of sagte geaardheid, wat onder normale omstandighede nie ‘n vlieg sou skade aandoen nie. Soms word die moordenaar se persoonlike omstandighede met soveel empatie geskets dat jy hom eintlik jammer kry en begrip vir sy wandaad toon. Dis eintlik soms ‘n bietjie sleg om te sien dat die goeie persoon, die persoon van wie ons gehou het, die moordenaar kan wees.


Dit het my nogal laat dink aan wat die Bybel oor die mens leer. Enige iemand kan ‘n moordenaar wees. Of steel of lieg. Of bakleierig wees of skel. Of bitter wees of haat. Of rugsteek of verraai. Al wat nodig is om te gebeur, is dat ons desperaat genoeg moet wees. Of lank genoeg kook en broei oor ‘n irriterende buurman, soos Kain. Die Kanadese sielkundige, Jordan Peterson, het dit eendag dramaties gestel toe hy gesê het dat elkeen van ons ‘n Hitler kan wees! Ongelukkig bevestig die geskiedenis hierdie realiteit male sonder tal vir ons. Verhale uit byvoorbeeld die Wêreldoorloë getuig van soveel “goeie” mense, wat die Nazi’s begin steun het, of wat Joodse vriende uitgelewer het, bloot omdat hulle druk van die Nazi-regering beleef het. Niemand onder ons moet ooit dink dat ons verhewe is bo die onheil, wat nog in ons skuil nie. Elkeen van ons is maar net een belewenis weg daarvan om ‘n onbesonne ding aan te vang. Ons is nie altyd so goed soos wat ons dink nie.


Gelukkig is die prentjie darem nie heeltemal so donker nie. Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Daar is ook mooi verhale van inspirerende dapperheid, waar mense hulle lewens vir ander onder moeilike omstandighede gewaag het. Heel dikwels brand die vlam van Jesus en die evangelie ook sterker binne-in ons as wat ons dink. Ons is dus ook nie altyd so sleg daaraan toe soos wat ons vermoed nie.


In Jesus het ons immers nie meer die identiteit van sondaar nie. Ons is nuwe mense. Vergeef en gevul met Sy Gees. Ons is vrygemaakte slawe en kan droom oor die mooi, goeie en inspirerende in die lewe. Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Maar as nuwe mense moet ons juis op ons hoede wees vir die sonde, wat nog met sy laaste stuiptrekkings in ons woed. Ek word nie eers meer stom geskok, wanneer mense my kom sien oor persoonlike probleme, veral in hulle huwelik, nie. Ek wonder soms hoe sulke oulike, liewe en dierbare Christenmense vir mekaar sulke afbrekende goed kan sê. Dan is dit soms mense vir wie ek die hoogste agting het of van wie ek dit die minste verwag. Dan herinner ek myself aan wat ek sélf al vir medemense gesê het. Dan verstaan ek.


Ons is inderdaad nuwe mense. Daarom moet ons elke dag onsself opnuut onder die heerskappy van Jesus en die leiding van Sy Gees plaas. Bedink jou nuwe identiteit. Die vryheid, wat genade bring en die suurstof, wat jy elke dag verniet mag inasem. Broei oor Christus, nie oor elke donker ding in ons land waarin ons gedagtes soms sy kloue kan inslaan nie. Bitterheid en die broei oor die slegte sal van jou, wat ‘n goeie mens is, ‘n Hitler maak.


Jesus sal jou egter vrymaak.

Comments


bottom of page