Lees Galasiërs 5:24
Wanneer die Heilige Gees ons lewenshuis oorneem, verander Hy ook ons liggaamshouding. Hy herbou ons op só ‘n manier dat ons bereid is om voor Christus te buig. Meer nog, Hy verander ons liggaamshouding sodat Jesus se kruis ook op ons eie skouers pas. Ons kry nuwe plekke laag aan God se voete. Die Heilige Gees bring ook ‘n lys met nuwe prioriteite in ons lewe tot stand. Heel bo aan hierdie lys plaas Hy ‘n behoefte in ons om gereeld met God te praat; om ons harte in gebed voor Hom uit te stort, Hom te aanbid en te dank.
Die Heilige Gees maak ons stemme los! Sommige kerkmense besing Sondag na Sondag die Here se lof en hoor Sy Woord, maar Maandag by die werk of by die skool word hulle tonge skielik loodswaar as hulle iets oor Hom moet sê. Party gelowiges leef asof hulle in die Here se geheime diens is. Hulle sê Sondae dat hulle in Hom glo, maar in die week werk hulle in die geheim vir Hom. Natuurlik mag ons nie so lewe nie, want die Here beskik nie oor een of ander geheime diens nie. Nee, ons praat so lekker oor die Here, want ons leef so graag vir Hom. Ons sondige natuur is gekruisig. Ons ou mens is hokgeslaan, gearresteer, gevonnis en toegesluit! Prys die lewende Here!
Gebed:
Dankie dat U kruisiging ook vir my die beste is, Jesus. Amen.
Comments