
Egte geloof is ‘n gawe van die Gees. Ja, dis ek wat my tot God bekeer. En dis ek wat glo. Maar agter dit alles staan die Gees. Dis Hy wat die saad van geloof in my laat ontkiem. Daarom is geloof:
om aan God vas te hou, al sien of voel ek niks nie. Geloof loop nie elke keer uit in uitbundige gevoelens of geestelike emosies nie. Daarom glo ek ten spyte van dit wat ek voel of beleef. Geloof in die Drie-enige Here swem teen alle mensgemaakte strome in.
Geloof is om God blindelings te vertrou dat Christus die losprys, wat op my kop, is namens my betaal het.
Geloof is om te weet ekself het niks om vir God aan te bied sodat Hy meer van my moet hou nie. Geloof is leeg hier aan my kant van die draad. Dis om met my hele lewe te vertrou op Iemand anders om my uit die gemors te kom haal, waarin ek myself bevind. Daardie Persoon se naam is Christus. Hy is genoeg. Hy is die Heer. Hy troef lewe en dood!
Geloof is om te weet die Gees vervul my, beseël my en lei my gelowig Godwaarts en dienend menswaarts.
Gebed:
Here, dankie dat U geloof in mense werk. Amen.
Comments