Genade gebeur!
- Stephan Joubert
- 11 minutes ago
- 1 min read
Teks: Efesiërs 2:4
Genade gebeur! Genade, wat reg gebeur, vertel luidkeels dat die Here my onvoorwaardelik liefhet. Hy het my lief sonder dat ek iets gedoen het om dit te verdien. Philip Yancey skryf juis in sy bekende boek, “What’s So Amazing About Grace”, daar is niks wat ons ooit gedoen het, of wat ons tans doen, of wat ons in die toekoms gaan doen wat sal maak dat die Here ons meer of minder sal liefhê nie. Hy het ons in elk geval lief. Genade is God se Nuwe Genesis na elke slegte Eksodus, wat ons aangepak het. Genade is die hemel se oor- en voor begin in ons lewe. Elke keer! Genade is wanneer God ons nie net maar nog ‘n hoeveelste kans gee nie, maar wanneer Hyself die kanse skep én die kanse waag om die hemelse sluise bokant ons lewe oop te maak. Genade verander God in die kansvatter. Hy waag dit met ons. Hy doen dit, omdat Hy ons onvoorwaardelik liefhet.
Genade is ervaarbaar en voelbaar. Genade vertel dat Jesus bereid is om oor en voor met ons elkeen te begin. Sy sagte hemelse uitveër, waarmee Hy al ons foute en sondes in een oogwink uitvee, is genade in lewende lywe. Wag, Sy kruis is hierdie uitveër. Dit vertel lewensgroot dat God kant gekies het vir sondaars, verlorenes en stukkendes. Dit vertel dat God nuut begin. Onsself ervaar hierdie nuwe begin, wanneer ons in Jesus glo as die Here van ons lewe. Dan is Sy genade aan’t gebeur in ons lewe.
Gebed: Dankie vir nimmereindigendende genade, Jesus. Dit is onverdiend. Ek loof U!
Comments