Genesing
- Marietjie Joubert
- 3 hours ago
- 2 min read
Lees Psalms 103:1-3
In die modern stad, Bergama in Turkye, dalk beter bekend as die stad Pergamum, staan die bouvalle van die antieke Asklepeios-tempel, waar die god Asklepius aanbid is. Hierdie tempel het die priesters vir genesing van siek mense of mense met geesteskwale gebruik. Dit was ‘n uitgebreide sentrum, waar siekes behandeling kon ontvang. Hulle het van die klank van water gebruik gemaak om mense rustig te laat voel. Pasiënte kon ook in die son lê om hulle gesondheid te verbeter. Hulle het geglo dat die water by die tempel jou gesond kon maak en het geplaaslike kruie as medisyne gebruik. ‘n Sewentig meterlange tonnel het die behandelingslokale met die tuine verbind. Toneelopvoerings en musiek was ook deel van die gesondwordproses.
Terwyl ek daar sit en luister na alles, wat jy daar kan doen om gesond te word, kom Ps 103 by my op. Dit is ‘n Psalm van Dawid oor die onverganklike liefde van God. Eers tref die woorde “onverganklike liefde” my! Ek kyk in die woordeboek na die sinonieme vir die woord “onverganklik”: langdurig, onvernietigbaar, standhoudend, onsterflik. God se liefde vir ons is onsterflik. Hierdie woorde gryp my aan die hart as ek Psalm 103 lees. Dit is wel net die opskrif, maar dit sê alreeds so baie van die God, wat ons aanbid. Sy liefde hou net nooit op nie.
In vers 2 lees ons dat Dawid nie een van God se weldade wil vergeet nie. As ons aan ons eie lewens dink, is daar soveel goeie dinge, wat ons kan opnoem. Ons het daagliks kos, werk, ons land se weer, die plek waar ek kan woon, die klere aan my lyf - daar is net te veel. Ons moet dalk meer kere God se weldade in ons lewens raaksien en die moeilikheid eenkant toe stoot. God se goedheid is ‘n konstante.
In vers 3 lees ons dat hierdie selfde God, wat ons vir ‘n ewigheid liefhet en ons toegooi met Sy oneindige goedheid, ook die God is wat ons sondes vergeef en ons toegang tot die ewige lewe gee. Om hierdie rede wil ek tot in ewigheid Sy lof besing.
In hierdie vers lees ek ook dat Hy my gesond maak. Terwyl ek so in die antieke Pergamum by die Asklepeion-tempel staan, sien ek die gode en luister na wat die arme mense moes deurgaan. Ek sien in my geestesoog tonele van siek mense, wat langs water lê, in die hoop dat dit hulle gaan gesond maak, mense wat met hoop in die son rondsit of -lê en ek dink: My God is anders!
Ek dien die lewende God, wat my tot in die ewigheid liefhet, wat my sondes vergewe het en wat my met goedheid oorlaai. Maar, bo alles, dien ek die God, wat my gesond maak. Ons leef in die modern era, waar die Here dokters en goeie medikasie gebruik om ons gesond te maak. Ek hoef nie Asklepius se tempel te besoek nie!
Here, vandag loof ek U saam met Dawid se Psalm omdat U my al soveel kere gesond gemaak het, soms net ‘n verkoue, of ‘n skrapie aan my vinger. Dalk het U my na ‘n groot operasie genees, hoe klein of hoe groot ook al. U maak ons gesond. Ek eer U daarvoor.
Comments