
Esegiël is nie ’n maklike teks om te verstaan nie. Dit is nie soseer die boodskap wat moeilik is nie, maar eerder die beskrywings van die kragtige visioene, wat my maag op ’n knop laat trek. Tog breek die Gees dikwels ook die moeilike verse soos ’n ryp granaat oop, sodat ek die sappige vrug kan eet en persoonlike betekenis in ’n spesifieke gedeelte vind. So is dit ook met Esegiël 1.
Esegiël beskryf vier wesens met voorkomste só manjifiek en ingewikkeld dat dit bykans onmoontlik is om ’n akkurate beeld in my kop te vorm. Lees dit deur en geniet die kleurvolle beskrywing, maar gee meer aandag vanaf vers 15 tot 19. Hier beskryf Esegiël die gerubs se “wiele” as ’n ingewikkelde stukkie ingenieursvernuf, wat só gebou is dat dit in enige rigting kan beweeg.
Druk die “pause”-knoppie by verse 20 tot 21.
Esegiël se wiele kan nou wel in enige rigting beweeg, maar dit beweeg deurentyd saam met die gerubs. Volgens vers 20 is dit duidelik dat ook die gerubs nie wispelturig of willekeurig beweeg nie: “Waarheen die Gees ook al wou, het hulle beweeg...” Terug na vers 12: “Die wesens het reg vooruit beweeg in die rigting, waarin die Gees dit wou en hulle het nie van koers verander, wanneer hulle beweeg het nie.”
Die gerubs en wiele beweeg in harmonie in die rigting waarin die Heilige Gees hulle lei – reguit vorentoe met oë (volgens vers 18 was die vellings van die wiele ook bedek met oë) gevestig op die heerlikheid van God as eindbestemming.
Ek is gebore met dieselfde vermoë: Ek kan my wiele in enige rigting draai en self besluite neem. Dikwels doen ek presies dít: Ek verban die Gees en beweeg lukraak in enige denkbare rigting, wat my emosies en begeertes op ’n spesifieke oomblik pas. Ongelukkig hou dit grootliks negatiewe gevolge in, nie net vir my nie, maar ook vir die mense om my en natuurlik vir die koninkryk van God.
My gebed is dat die Heilige Gees nooit moed sal opgee en my net los om klakkeloos en sonder gesonde verstand of enige leiding in hierdie wêreld rond te dobber nie. Ek bid verder dat ek nooit op ’n punt sal kom, waar ek maar tevrede is om sonder Hom ’n lewenspad, gekenmerk deur inkonsekwensie en planneloosheid, te stap nie.
Comments