Gesalf deur die Heilige Gees – wat ons by Saul leer
- Liezel Lüneburg
- Apr 1
- 2 min read
Saul was ’n jaloerse, ongehoorsame koning, wat aan vervolgingswaan en angstigheid gely het. Hy was dwaas. Die skielike mag het direk na sy kop gegaan en hy het in sonde verval en afvallig geraak. Sy laaste dae as koning kan beskryf word as obsessief, manies en destruktief. Saul het tot ’n val gekom en op die ou einde uit vrees selfdood gepleeg.
Saul was nie ’n heilsame karakter nie en het God oor en oor diep teleurgestel. Dit is dalk juis om hierdie rede dat ons baie by hom kan leer:
Saul was so seker van homself dat hy geglo het hy het gesag om ’n offer in Samuel se afwesigheid te bring. Dit het daartoe gelei dat sy koningskap begin wankel het. Ons leer hieruit om te vergeet van selfversekerdheid en om eerder op God-versekerdheid te fokus.
’n Tweede les begin met die vraag: Het Saul berou oor sy talle sondes gehad? Nee. Hy het wel erken dat hy gesondig het, maar bloot omdat hy bang was dat hy eer voor mense sou verloor. Daar is ’n reuseverskil tussen berou oor en bekentenis van sonde.
Verder bevestig Saul se verhaal dat God nie na die uiterlike kyk nie, maar na die innerlike. Daar staan meer as een maal geskryf dat Saul ’n aantreklike man was. Dit het hom egter niks gehelp toe hy God se ondersteuning verloor het nie.
In die vierde plek het Saul in sonde volhard. Eeue later sou die onbekende skrywer in Hebreërs 10 skryf: "Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sonde kan wegneem nie."
Ten spyte van die bogenoemde "doom and gloom", is daar tog vreugde en goeie nuus ook in Saul se verhaal te vind. As God my vir ’n taak roep, sal Hy my nooit sonder die Heilige Gees die onbekende instuur nie! Net nadat hy ’n kruik olie oor Saul se kop uitgegiet het, het Samuel die nabye toekoms gesien. 1 Samuel 10:6 e.v. beskryf hoe Saul op ’n groep profete sou afkom en saam met hulle optree: "Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou werk. Jy sal ... ’n ander mens word. Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou ... Net toe hy omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God Saul se gesindheid verander."
God het ’n teken gestuur dat Hy Saul as koning uitgekies het en die teken het hom ook toegerus vir die taak om Sy volk te lei.
Here God, laat die Gees, as ’n teken dat U ook vir my gesalf het, kragtig in en deur my werk. Verander my gesindheid en maak my ’n ander mens, ’n mens wat U werke doen, soos wat my hand dit vind om te doen. Mag dit so wees.
Comments