top of page
Stephan Joubert

Getrouheid

Lees Galasiërs 5:22


Getrouheid is daardie vrug van die Gees, wat veroorsaak dat ons kan vasbyt. Dis om op ons pos te wees, dit maak nie saak wat gebeur nie. Getrouheid veroorsaak dat ons betroubaar is. Die Here kan maar enige tyd op ons knoppie druk en ons sal daar wees. Anders as Petrus daar in die hoëpriester se binnehof sal ons Jesus nie goedkoop uitverkoop deur te maak of ons Hom nie ken nie. Nee, ons sal staan en val by die Waarheid, by Christus self. Ons sal ons poste vreugdevol beman en bevrou tot Sy eer.

Getrouheid vloei oor na al die kleiner daaglikse prentjies van ons lewe toe. Dit raak die manier hoe ons elke dag met mense  praat, hoe ons oud en jonk, belangrik en onbelangrik, behandel en hoe ons ons geestelike dissiplines van gebed en ons studie van die Bybel getrou nakom. Getrouheid is nie net ‘n term, wat op die rakke van ons lewe rondlê om stof te vergader nie. Nee, dis ‘n wesenlike deel van die vrug van die Heilige Gees in ons lewe, wat tot gevolg het dat ons nooit die Here in die steek laat nie. Ons het een stel leefwaardes, een stel beginsels en dis God s’n. Sy wil wen. Sy pad is die enigste. Sy roeping is al wat tel. Getrouheid verander ons in lewenslange, toegewyde volgelinge van Christus. Waar Hy gaan, daar gaan ons ook.  


Gebed:

Ons loop vandag enduit op U pad, Here Jesus. Amen.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page