’n Ambisieuse pianis, genaamd Daniel Steibelt, het een keer saam met Ludwig Van Beethoven aan ‘n kompetisie deelgeneem. Volgens Ferdinand Ries, ’n Duitse komponis wat in Wenen was, toe hierdie kompetisie plaasgevind het, het Steibelt eerste vir die gehoor gespeel. Toe dit Beethoven se beurt was, het hy Steibelt se stuk geneem, dit onderstebo gedraai en foutloos gespeel. Hierna het Beethoven uit die kop ’n stuk musiek geskep en vir die gehoor gespeel.
Steibelt se publieke onderonsie met Beethoven het hom uitgekanselleer. Druipstert het hy uit Wenen padgegee. Dis jammer. Foute en karaktergebreke mag nooit die laaste sê in ons lewe hê nie. Ons geloof kom nie ten einde, omdat ons ’n knik op die pad beleef het nie, of as ons ons naam met ’n plank geslaan het nie. In die Bybel weet ons van baie voorlopers, wat kleivoete gehad het. Dink maar aan Abraham, of Petrus. Nie een van hulle was engeltjies nie, maar nogtans het die Here hulle weer in diens geneem, nadat hulle oor hul eie probleme gestruikel het. Abraham se klein geloof, wanneer God met hom in Genesis 15 praat, het hom nie uit die spel gehaal nie. Net so het Petrus se verloëning van Jesus hom nie gekeer om weer agter sy Heer aan te loop nie. Ons eie gebrokenheid diskwalifiseer ons ook nie vir God se werk nie. God gebruik stukkende mense, soos ons, mits ons nie agter ons foute as verskoning wegkruip nie. En mits ons nie dieselfde sondes oor en oor herhaal nie. Ons staan elke keer op en doen reg. Dan is ons opnuut aan diens vir God.
Comments