Ek is baie lief vir my skeptiese en nie-gelowige vriende, maar sommiges frustreer my eindeloos met die gebrekkige begrip, wat hulle soms het van die einste evangelie, wat hulle kies om te verwerp. Nou die dag probeer een van hulle aan my verduidelik dat Jesus aan die kruis gesterf het, nie omdat dit God se plan was nie, met ander woorde nie vir ons sonde nie, maar bloot omdat Jode in opstand gekom het en hulle die Romeinse owerhede oorgehaal het om Hom dood te maak. God het dus niks te make daarmee nie - Jesus is deur mense vermoor. Dis tog duidelik uit die historiese feite, waaroor ons beskik, beweer hy.
Nog ‘n voorbeeld is dr. Ben du Toit in sy boek, “God: is daar ‘n ander antwoord”, waarin hy verduidelik hoe hy, na jare se bediening as dominee, sy geloof opgegee het. Hy verduidelik dat gebedsdae vir reën in gemeentes altyd vir hom baie moeilik was, aangesien die natuur nie so werk nie. Gebed kan nie reën meebring nie. Dis winde, gevorm deur hoog- en laagdrukstelsels, wat reën bring nie, nie God wat bonatuurlik ingryp nie. Alles is natuurlik verklaarbaar. So skryf hy.
Ai, ek dink as die bekende ateïs, Frederich Nietzsche, sulke flou redenasies deur mede-ateïste hoor, sou hy in trane uitbars. Wat het geword van die kwaliteit van ateïsme! Nietzsche sou geweet het dat die aanspraak van die Bybel nie so simplisties is nie. Natuurlik erken geloof die natuurlike werking van alles. Natuurlik het die Jode en Romeine Jesus vermoor. Natuurlik is dit die natuurwette, wat verduidelik hoe weerpatrone verander. Maar weet hierdie mense nie dat die boodskap van die Bybel juis behels dat God die wêreld meestal organies regeer en nie meganies nie? Wanneer Jesus verduidelik hoe die koninkryk van God werk, dan gebruik Hy byna elke keer gewone voorbeelde uit die natuur! God is nie net by ooglopende wonderwerke betrokke, wat slegs “bonatuurlik” verduidelik kan word nie. Hy werk juis in en deur die natuur, soos wat Hy dit van die begin af geskep het! Natuurlike gaan Hy nie elke natuurwet ophef, wanneer ons om reën smeek nie, maar dit beteken nie dat hy nie gebede kan verhoor nie. Sy organiese werking beteken tog dat hy juis persoonlik in die natuur werksaam is, deur die einste natuurwette, soos Hy dit geskep het. Hy is beslis nie gelyk aan die natuur self nie. Dis wat panteïsme leer. Ons is egter teïste. Ons glo God staan buite die natuur en die ganse natuur is van Hom afhanklik. Ons noem dit in teologie God se transendensie. Maar hy is egter in Sy natuur werksaam en daarom het God die mag om selfs deur die natuurlike prosesse, wat Hy geskep het, ons gebede te verhoor. Ons noem dit Sy immanensie.
Dis waarom, toe die bekende wetenskaplike, Johannes Kepler, ‘n majestueuse ontdekking in die astronomie gemaak het, hy op sy knieë neergeval het en gesê het: “Ek prys U, o God dat U my die gedagte laat dink het wat U al van die begin af dink!” God is nie net die Here van die onverklaarbare nie. Hy is ook die Here van die verklaarbare en die oënskynlik gewone.
As jy wil skepties wees oor ons geloof, is dit in orde. Dit was nog altyd so. Maar kry darem net eers die boodskap van die Bybel reg, voor jy dit afskiet!