
Selfs al kan God alles doen, soos wat Jesus in Matteus 19:26 sê, kies Hy om nie alles te doen nie. Hy weier byvoorbeeld om leuens te vertel. Hy weier ook om boek te hou van enige kwaad, wat voor Hom bely is. Hy weier ook om sonde en onreg te beplan. Net so weier Hy om diegene, wat Hy verlos het, prys te gee. God se almag laat Hom nooit in stryd met wie Hyself is, optree nie.
Augustinus, die groot teoloog van die 4de, 5de eeu, verstaan God se almag as dat Hy doen wat Hy graag wens om te doen. God se wese bepaal Sy handelinge. Sy genade en liefde bepaal Sy optrede. Nee, God is nie planloos of wispelturig nie. Van ewigheid af is dit Sy plan om Sy skepping en sy mense te red. Van nog altyd af is Hy die God van redding. Daarom sal niks Sy kinders ooit uit Sy hand ruk nie, soos wat Jesus ons leer in Johannes 10. Ons is veilig in die sterk hand van die Almagtige. Sy hart van liefde en Sy wese, wat oorstroom van genade, bepaal al Sy handelinge.
Comments