top of page
Stephan Joubert

Goddank, ons is meer as atome met ’n bewussyn

Die fisikus, Richard Feynman, sê ons as mense is eintlik maar net ‘n massa atome, wat opgesaal is met ’n bewussyn. Wel, as dit al is wat ons is, dan bly daar niks van ons oor as daardie einste bewussyn eendag verdamp nie. Dan verdwyn ons nadoods vir altyd. Dan word ons sterstof of “stardust,” soos wat die Engelse dit noem. Genadiglik is dit nie waar nie. Ons is veel meer as al die atome, waaruit ons liggaam bestaan. Ons is meer as al daardie vibrerende molekules, wat in ons eie lyf onder begeleiding van ons bewussyn bymekaar gehou word. Ons is meer as al die metaboliese sisteme, wat ons liggaam aan die lewe hou. Ons is geskep na die beeld van God. Ons is deur Hom ontwerp om vir tyd en ewigheid te leef. Ons as gelowiges is Syne hier en vir altyd. 


Psalm 8 jubel dit uit dat ons God se handewerke is. Hyself het ons oorlaai met eer en heerlikheid. Hy het ons beklee met glorie, asook met die gawe van lewe. Daarom is ons eindeloos meer as ’n bondeltjie tydelike materie, wat verdamp as ons die dag tot sterwe kom. Ons is kosbare skeppings oor wie die Here Sy Naam vir ewig uitgeroep het. Ons is God se spesiale eiendom, wat deur Christus se kruisdood vir altyd vrygekoop is. Ons verdwyn nie eendag in die niet nie. Ons is nie besig met ’n nuttelose gejaag na wind nie. Ons is op pad na God se ewige tuiste toe.

Comments


bottom of page