Heiliges - dit is wie ons is!
- Stephan Joubert
- Mar 7
- 1 min read
Teks: 1 Petrus 2:9
Ek wil nie 'n heilige wees nie. Laat ek dit reg sê: ek wil minstens ’n heilige wees, soos wat die kerk deur die eeue daaroor gedink en gepraat het nie. Heiliges of “saints” was slegs daardie klein groepie gelowiges, wat so goed geleef het dat hulle ekstra goeie werke blykbaar nou nog tot ons voordeel kan strek, as ons deur hulle tot God bid. Toe nie! Paulus se idee van heiliges werk veel beter vir myself. Nog meer, Paulus se woorde is die Bybelse waarheid en nie mensgemaakte tradisies nie. Paulus noem alle gelowiges heiliges in Sy briewe. Hierdie term is nie eerstens 'n verwysing na ons manier van leef nie. Dit verwys na ons nuwe posisie en status voor God. Dit is 'n aanduiding dat ons Sy kinders is. Heiliges is God se eksklusiewe eiendom. Ons is voltyds opsy gesit om Hom te dien en lief te hê.
Natuurlik moet ons as heiliges ook heilig leef. Daar’s geen twyfel hieroor in die Bybel nie. Levitikus 19 en 1 Petrus 2 roep ons almal op tot heilige lewens, omdat God heilig is. Ons lewens is die sigbare bewys dat ons aan God behoort. Nie net ons belydenisse nie, maar ons leefwyse vertel die volle storie van ons heiligheid. As ons dit nie reg uitleef nie, is God se spesiale term vir ons almal 'n klug hier aan ons eie kant van die draad. Ons lewens moet God se heiligheidstaal agterna praat. Dan is ons inderdaad goeie, wandelende advertensieborde van die Here se genade.
Gebed: Here dankie dat ek ’n heilige is. Laat ek ook heilig leef.
Comments