top of page

Help, ek sit op die ashoop!

Helena Smith

In Paraguay is daar ‘n arm gemeenskap wat letterlik op ‘n vullishoop bly. Daagliks word daar meer as 1500 ton vullis op hierdie ashoop gegooi. Die arm mense van hierdie gemeenskap maak ‘n lewe daaruit om weggooigoed wat herwin kan word, bymekaar te maak en te verkoop. Hierdie gemeenskap is ook baie bekend vir hulle orkes. Ja, jy het reg gehoor! Dit is nie ‘n gewone filharmoniese orkes met duur Stradivarius viole nie, maar ‘n kinderorkes wat op instrumente speel wat van afvalmateriaal gemaak is.


Favio Chavez, ‘n professionele musikant, het ‘n musiekskool vir die kinders van hierdie arm gemeenskap begin. Hulle het aanvanklik geen instrumente gehad nie, maar kort voor lank was daar ‘n tjello gemaak uit ‘n oliekan en ‘n fluit gemaak uit klein blikkies. Hierdie orkes is nou bekend as Landfill Harmonic. Jy kan gerus op Youtube na hulle pragtige musiek luister.


Jesus het sy hemelse troonkamer verlaat, om na die ashoop van die aarde te kom. Hy het volmaaktheid opgegee, vir gebrokenheid en pyn. Deur Sy wonde het daar vir jou genesing gekom. Soos wat Favio Chavez vir arm kinders hoop gebring het deur mooi musiek, wil God ook vir jou in jou gebrokenheid weer kom hoop gee.


Dalk voel dit vandag vir jou asof jy op die ashoop sit. Dalk het jy tydens Lockdown jou besigheid verloor, dalk gaan jy deur ‘n egskeiding of ly jy aan ‘n ernstige siekte. Ek het goeie nuus vir jou, ons lees in die bergpredikasie in Matteus 5:4 :”Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee.” Dit klink na ‘n paradoks, ‘n mens kan tog nie gelukkig of geseënd wees as jy treur nie! God sal egter nie jou pyn vermors nie of jou in die steek laat nie.


Job was voor al sy ellendes ‘n geseënde man in wêreldse terme. Hy was skatryk. Toe hy egter ly, het hy God op ‘n heel ander manier begin ervaar. Ons treur gewoonlik oor iets wat ‘n gat in ons lewe kom maak het. God is bereid om daardie gat met Homself vol te maak. Jy bid dalk vir jou uiterlike omstandighede om te verander, maar God stel meer in jou innerlike verandering belang. In Job 42:5 lees ons: “Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien.”


As jy voel asof jy nie meer kan nie, asof jy aan die einde van jouself gekom het, kan jy God se teenwoordigheid en vertroosting soos nog nooit tevore ervaar nie. Hy is net ‘n gebed ver. Ek lees net vanoggend op Facebook die volgende: “When you are hanging on by a thread, make sure it is the hem of His garment.”

Comments


bottom of page