top of page
Alet Gardner

Hemelligte en -storms

Hier in die VK het ons in Mei 2024 vir ‘n paar dae lank die voorreg gehad om die Noorderligte in ons eie tuin te kon sien. ‘n Ware wonder om te aanskou!

 

Hierdie pragtige natuurverskynsel word natuurlik deur die storms, wat van tyd tot tyd op die oppervlakte van die son woed, veroorsaak. Enorme “wolke” van elektries gelaaide deeltjies word vanaf die son se oppervlak die ruimte ingeskiet. Sommige hiervan bereik die aarde se atmosfeer, waar dit die gasse ioniseer, wat op hulle beurt lig vrystel. Kleurvolle liggordyne word so op ‘n hoogte van honderde kilometers gevorm en kan snags selfs met die blote oog gesien word. Hoe meer intens die storms op die son, hoe groter is die versteuring van die aarde se magnetiese veld, en selfs kragnetwerke, kommunikasie en GPS kan geaffekteer word.

 

In Mei 2024 met die ligbesoedeling hier naby Londen was ek aanvanklik baie teleurgesteld – ek kon nie die hemelse skouspel met die blote oog sien nie. Gelukkig kon my slim dogter voorstel dat ek my iPhone-kamera se 3-sekonde-funksie inspan en, siedaar, gordyne van lig, wat bokant my agterplaas hang!

 

Iets van die “onsigbare” storms op die son het my herinner aan die onsigbaarheid van ‘n geestelike oorlog, wat soms iewers in die geestelike dimensie aan die gang is en die wonder van die lig van die Here se teenwoordigheid, wanneer ek werklik op Hom fokus.

 

Wanneer ek myself in ‘n geestelike oorlog bevind, hoef ek nie angsbevange of moedeloos te raak nie. Ek kan my geestelike “lens” inspan en iets van my Here se glorie sien skyn. Wat ek nie met die blote oog kon sien nie, kon ek met die filter (fokus) van die kamera sien. Net so kan ek die Here se heerlike teenwoordigheid “raaksien” deur reg te fokus. Hierdie “fokus” kan ek inoefen in my stiltetyd, waar ek God se betroubaarheid, Sy liefde, genade en almag beter leer ken en dit in my alledaagse lewe (én in die “storms” van die lewe) kan raaksien. Dit is juis die groter storms, wat my meer bewus kan maak van die wonder van God se teenwoordigheid.

 

Geestelike “sonstorms” sal ook wel op my lewe kan reflekteer, soms met lieflike auroras, maar soms met ‘n tydelike kragonderbreking en die gepaardgaande impak op kommunikasiekanale met my medemens. Daarom is dit van kardinale belang dat ek my fokus reg sal instel met sinvolle stiltetyd, met gesonde geestelike insette en met medegelowiges, wat my kan ondersteun en kan herinner aan die “geheim van die 3-sekonde-funksie”.

Commenti


I commenti sono stati disattivati.
bottom of page