top of page
Roedolf Botha

Here, gee my geloof en visie!

Geloofshelde met inspirerende stories bly maar net ‘n groot aansporing vir my. Ek kyk ‘n paar weke gelede na ‘n fliek, wat handel oor die ware verhaal van die geestelike leier, Frances Xaviour Cabrini (1850-1917). Sy was ‘n Katolieke non wat ‘n visie gehad het om ‘n kinderhuis in die agterstrate van New York tussen die armste van arm kinders te vestig. Haar visie was grensloos. Haar plan was om uiteindelik tehuise regoor die wêreld te begin,  waar arm mense en kinders gehelp kon word.


Sy het egter ‘n paar uitdagings gehad.


Die eerste was dat sy aan uiters swak gesondheid gely het. Sy het hart- en longdefekte gehad, wat die verwagting geskep het dat sy nie lank sou leef nie. Sy was egter vreesloos en het haar gesondheid nooit as ‘n verskoning gebruik nie, maar eerder as ‘n aansporing tot hoër hoogtes.


Die tweede groot struikelblok was dat sy steeds in Italië woonagtig was en dat die pous van destyds haar nie wou toestemming gee om die Europese kontinent te verlaat nie. Sy was immers ‘n vrou en nog nooit is ‘n vrou toegelaat om ‘n bediening van so ‘n omvang te bedryf nie. Haar plan was sewe keer deur die pous afgekeur totdat sy besluit het om Rome toe te reis en hom self te gaan konfronteer. Aanvanklik wou die pous haar nie eers spreek nie. Toe hy uiteindelik instem, was hulle gesprek iets om aan te hoor. In hierdie gesprek vra die pous, onder andere, vir haar:


"So, you want to establish a worldwide order?"


Dis haar antwoord, wat my tussen die oë getref het:


"Your holiness, the world is too small for what I intend to do."


Die ganse wêreld was te klein vir haar passie! Sy was nie arrogant nie. Sy het visie gehad. Haar geloof in wat die Here  deur haar kon doen, sowel as haar passie vir God en mens, het my diep getref. So vaar sy Amerika toe, waar sy haarself  in ‘n jarelange stryd teen uiterste gevaar, armoede, die politieke mag van mense, wat haar uit die weg wou ruim, sowel as haar eie gesondheidstoestand vasgeloop het.


Maar sy het nooit opgegee nie. Sy het groot hoeveelhede  arm weeskinders  van ‘n veilige tuiste voorsien. Stadig maar seker het sekere ryk magtiges ook na haar begin luister. Vandag nog bestaan daar ‘n horde van die beste hospitale, wat deur haar en in haar naam begin  is. Sy het welsynsbewegings op elke kontinent op ons planeet gestig. So groot en wyd was haar visie en invloed dat daar gepraat is van ‘n welsynsryk (empire)! Sommiges het haar invloed selfs met dié van besigheidsmagnate soos Rockerfeller vergelyk! Sy het geen persoonlike ambisie gehad nie. Al wat haar gedryf het, was geloof, baie liefde en die hoop dat God sal werk.


Dan kry ek so skaam dat my visie vir die Here so klein is. Dat ek so min geloof, liefde en hoop het. Ek gebruik so maklik my eie gesondheid of ander dergelike dinge  as verskoning om niks te doen nie. Soms wil ek nie eers oor die straat stap om te help nie.


Cabrini het Jesus ernstig opgeneem toe Hy gesê het:


 "Aan My is alle mag gegee, in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels..."


Ek wil ook. Hoekom sal ons nie? Cabrini het my gehelp om te verstaan dat ek ‘n visie moet hê wat gelyk staan aan  die Here se liefde vir die wêreld! Hoekom nie?  Jesus het dan gesê:


"Onthou, Ek is by julle, al die dae..."

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page