top of page

Hier’s goeie medisyne vir godsdienstige geheueverlies

Stephan Joubert

Ek raak vergeetagtig. Laat ek dit reg sê: ek is soms vergeetagtig as dit by geloofsake kom. Ek vergeet gou-gou wat God se Woord my leer, wanneer die regte lewe elke dag soos klokslag aanbreek. My gebede van vroegoggend verdamp soos mis voor die son as ek die jongste nuus hoor. Wanneer rassespanning die hoogte in skiet en almal in kampe gejaag word, voel dit of my geloof krimp. Ek praat nie eers van die land se “normale” probleme nie. 


Op verskillende maniere probeer die lewe my oortuig dat my geloof nie daar tuis hoort nie. Of dat dit nie daar enige verskil maak nie. Maar dis ’n leuen. God is orals. Jesus is Immanuel. As die regte lewe my geloof laat krimp, lê die fout by my. Dan laat ek toe dat die wêreld met my kop smokkel. God is daagliks aanwesig te midde van al die pynkrete en nonsens van die lewe. Die kuns (en die uitdaging!) van geloof is om Hom te midde van my eie pyne en onsekerhede te beleef. Dit is om Hom raak te sien, al kyk die res Hom mis. Dit is om Sy stem te hoor, al hoor almal die stemme van geweld en chaos. God is orals. Hy is steeds die Here. Hy het nie moed verloor met ons nie. Hy is nie weg, omdat ek soms aan godsdienstige geheueverlies ly nie. Hier aan my kant van die draad moet ek net my geestelike geheue gedurig oefen. Dit gebeur wanneer ek toelaat dat die Woord regtig die lig vir my pad en die lamp vir my voete is. Wanneer ek die Woord nie maar net vir my stiltetyd gebruik nie, maar dit daagliks saamneem na die regte lewe toe, verdamp my godsdienstige geheueverlies. Dan leef ek doelbewus en bewustelik in die Here se aanwesigheid, al doen ek dit alleen … want ek is nie!

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page