top of page
Roedolf Botha

Hoe lyk ‘n gesonde leierskapspan?

Leiers bou spanne. Dis wat leiers doen. ‘n Leier kan nie sonder ‘n span nie. Die span is wat leierskap laat werk. Maar niemand praat ooit oor hoe presies ‘n mens so ‘n span moet definieer en watter elemente teenwoordig moet wees vir ‘n gesonde leierskap nie. Die besigheidskonsultant, Patrick Lencioni, gee ‘n baie eenvoudige definisie van so ‘n span en verduidelik dit dan aan die hand van drie omskrywende kenmerke. Die definisie lyk so:

A Leadership team is a small group of people who are collectively responsible for achieving a common objective for their organization.


Dan brei Lencioni uit op drie elemente van die definisie.


1.    ‘n Klein groepie mense

Ek praat onlangs met ‘n vriend van my, wat ‘n gemeente in ‘n informele nedersetting naby Pretoria het. Hy wys my gereeld daarop hoe hy met die leierskapspan (kerkraad) sukkel en dat die konflik hom geweldig uitput. Toe vertel hy tot my verbasing vir my dat hierdie leierskapspan uit meer as dertig lede bestaan. Toe ek dit hoor, het ek dadelik verstaan waarom hy sukkel! Lencioni wys daarop dat sekere spanne in organisasies met besluitneming en algemene effektiwiteit sukkel, bloot omdat hulle te groot is. Uit ervaring stel hy voor dat enige leierskapspan uit tussen drie en twaalf lede moet bestaan! Sy waarneming is egter dat ‘n mens reeds begin probleme raakloop, wanneer die getal bo agt begin klim! Mense het groot spanne gewoonlik vir een van twee redes. Die eerste is dat hulle inklusief wil wees en die tweede is dat hulle “verteenwoordiging” van alle departemente of bedienings wil hê.

Die realiteit is egter dat dit net nie effektief werk nie. Met ‘n groot span is daar te veel mense met te veel opinies en mense deurdink juis nie ‘n saak goed genoeg nie. Lencioni wys daarop dat mense juis meer ondervraend by die aanhoor van ‘n voorstel is, wanneer hulle minder is. Hulle vrae is beter en die besprekings is deeglik en die groep kom makliker tot ‘n goeddeurdagte besluit.

 

2.    Kollektiewe verantwoordelikheid

Wat ‘n leierskapspan onderskei van byvoorbeeld ‘n taakgroep of werkswinkel, is dat die lede van die groep selflose, gedeelde opofferings teenoor mekaar en die gedeelde doelwit maak. Hierdie opofferings het onder andere te make met tasbare dinge, soos begrotingstoewysings, wat volgens behoefte van die een departement na ‘n ander geskuif word. Die grootste offers, wat gebring word, aldus Lencioni, het met tyd en emosionele energie te make. Om aanspreeklikheid vir die uitdaging van die gemeente of maatskappy te neem, moet daar baie tyd spandeer word, heel dikwels na ure. Daar moet egter met passie en energie opgedaag word sodat optimale kreatiwiteit bereik kan word.

 

3.    Gemeenskaplike doelwitte

Alhoewel hierdie punt baie vanselfsprekend klink, is dit tog belangrik om dit duidelik te stel dat die doelwitte van ‘n span inderdaad kollektief moet wees. Dit moenie aan enige individu alleen behoort, wat dit op die groep afdwing nie. Indien die groep byvoorbeeld ‘n vaste doelwit het om verkope te verhoog, moet almal op die groep daaragter inskrum en nie net die hoof van Verkope nie. Of indien ‘n gemeente besluit dat kleingroepe moet verdiep en verbeter met die oog op bediening, moet al die leraars en / of die leierskap daaragter vasstaan. Niemand in ‘n gesonde span sal ooit iets sê soos: “Ag wel, ek het my werk gedoen - dis nie my skuld dat die groep gefaal het nie.” Een doelwit is almal se doelwit en almal neem saam daarvoor verantwoordelikheid.


Die bou van spanne is uiters belangrik in die kerk sowel as in die res van die werkswêreld. Jesus het ‘n dissipelspan gebou, wat die wêreld verander het. Christenleiers behoort te poog om dieselfde te doen. So kan lewegewende gemeenskappe ‘n blywende impak op die samelewing maak, sodat Jesus sigbaar, hoorbaar en tasbaar vir almal kan word!

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page