Hoekom laat God slegte dinge toe? Hoekom keer Hy nie kanker, oorlog en misdaad nie? Wanneer sulke vrae opduik, is baie mense op die agtervoet. Ons hoef egter nie onkant betrap te wees nie. So by so is ons nie aangestel as God se aardse regspan, wat Hom gedurig moet verdedig nie, maar dit beteken nie ons hoef stil te bly nie. Ekself kies om hierdie vraag om te draai wanneer ek aanhoor God is liefdeloos, omdat bose dinge gebeur. Dan vra ek op my beurt: “Hoekom laat God dan goeie dinge toe? Of is goeie dinge ons eie skuld, maar slegte dinge is God se skuld?”
Die Bybel skram nooit weg van die feit dat die lewe hard en onregverdig is nie. Prediker 9 sê juis dieselfde lot tref alle mense, goeies en slegte. Maar die Bybel skram ook nie weg van die feit dat God ons nie as menslike robotte geskep het nie. Hy het ons nie lewenslank vooruit geprogrammeer om “happily ever after” te leef, soos besluitlose bliksoldaatjies nie. Hy gee aan ons almal die vryheid tot keuse. Dit is presies hier waar die moeilikheid inkom: Mense kies teen God en teen Sy wil. Sulke slegte keuses het slegte gevolge. Dit lei tot booshede, soos oorlog, moord en diefstal, soos wat Jakobus 4 padlangs skryf. Nogtans leer Jakobus 1 vir ons dat alle goeie gawes van God afkomstig is. Kortom, God doen goed, want Hy is goed. Om dit te weet, is om te leef uit Sy goedheid. Dit doen ons in goeie en in swaar tye.
Comments