Ek onthou van ’n studentevriend, wat een keer vertel het van sy pa wat ’n Bybel besit het waarvan ’n klompie bladsye sonder enige teks was. Dit was ’n drukkersfout. Toe hy eendag vir sy pa sê om ’n ander Bybel te kry, het dié geweier. “Hoe gaan Pa dan verstaan wat Pa lees as daar elke kort-kort ’n bladsy ontbreek?” vra hy. “’n Mens hoef nie die Bybel te verstaan nie, jy moet dit maar net lees soos ’n kind,” was sy pa se reaksie.
Hartseer genoeg, volg baie mense steeds hierdie roete. Net daardie tekste wat vir hulleself werk, is eintlik hulle Bybel. Die res is vir hulle soos leë bladsy. Party lees steeds net Bybelse beloftes. Ander lees net sogenaamde eindtydprofesieë. Nog ander kies slegs hul gunsteling Bybelverse en ignoreer die res. Feit bly: die Bybel moet reg gelees en reg verstaan word. Ek lees juis in Handelinge 8 van die Ethiopiër, wat uit Jesaja sit en lees het, toe Filippus by hom opdaag. Filippus vra toe of hy verstaan wat hy lees. Die amptenaar was eerlik genoeg om nee te se. Dadelik het Filippus by hom op sy wa geklim en die Skrif vir hom uitgelê. Doen asseblief dieselfde. As jy nie verstaan wat jy lees nie, moet jy dringend by jou eie Filippus uitkom. Skakel in by ’n Bybelstudiegroep. Praat met ’n Bybelkenner. Gebruik ook ons eKerk toep (wat jy gratis kan aflaai op die iStore of op GooglePlay) waar jy onder die afdeling Bybelskool ’n groot verskeidenheid Bybelskole kan kyk of luister. Doen moeite om God se Woord reg te lees en reg te verstaan. Hy verwag dit van jou, anders verstaan jy Hom dalk verkeerd. Nog meer: anders loop jy dalk Sy wil vir jou lewe mis.
Comments