top of page

Is jou vel op die spel?

  • Roedolf Botha
  • Nov 21, 2023
  • 4 min read

Updated: Feb 14


Ek dink nou die dag weer aan die fliek Air Force One. Die fliek is nie in alle opsigte die beste storie nie. Dis Baie patrioties in die tipies Amerikaanse sin van die woord. Tog is daar goeie aksie en spanning. Harrison Ford speel die rol van die Amerikaanse president, wat, oral waar hy gaan, braaf kommunikeer dat Amerika nóóit met terroriste sal onderhandel en toegewings maak nie, selfs al sou die terroriste gyselaars aanhou. Alhoewel dit seker nie ‘n slegte beginsel is nie, word sy oortuigings toe getoets, toe sy eie gesin op sy vliegtuig as gyselaars aangehou word. Eise word nou deur die terroriste gestel en sy gesin se lewens word bedreig. Ewe skielik het die president van mooi opinies en toesprake na ‘n realistiese toets van sy oortuigings beweeg. Dit beteken nie hy was verkeerd nie. Daar is egter nou net meer op die spel as bloot sy politieke opinie. Nou hang mense vir wie hy diep omgee, in die weegskaal. Wat sal hy nóú doen? Gaan hy nou onder die geweldige emosionele druk sy opinie verander, of gaan hy onversetlik voortbeur en volgens sy oortuiging optree?


Die punt is egter dat daar ‘n beginsel is waarsonder die lewe nie kan werk nie. Ons noem dit skin in the game. Dis om prakties te leef wat jy glo. Dis om ‘n praktisyn te wees en om nie bloot volgens teorie te funksioneer nie. Dis vir iemand om opofferend te belê in wat hy glo. Wanneer iemand skin in the game het, praat hy nie net nie, maar offer op vir dit, waarvoor hy staan. Hy tree waaghalsig op in terme van wat hy bely en sê. Hy plaas sy lewe op die spel. Dalk kan ons praat van vel in die spel. Is jou vel in die spel, of gooi jy bloot jou opinie rond? Ons sê ook in Engels he puts his money where his mouth is. Sonder skin in the game word die commitment tot ons opinies nie deur die harde kant van die lewe getoets nie. Sonder enige risiko aan ons oortuigings gekoppel, is ons standpunt maar net nog ‘n opinie en raak ons lewens oppervlakkig. Ons geloof raak swak en flou en vou onder die geringste druk. Dis maklik om ‘n opinie te hê, maar as jy werklik daarin glo, sal jy skin in the game hê. Met ander woorde, jy sal dit leef en geweldig daarvoor opoffer.


Mense het al vir my gesê dat Jesus darem baie hoë eise stel, wanneer Hy sê:


As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie, tensy hy van sy eie vader en moeder, vrou, kinders, broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe afstand doen. Iemand, wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.

Dis egter omdat Jesus ons juis hierdie beginsel oor die lewe probeer leer.


Mense leef eenvoudig beter en baie meer effektief, wanneer hulle skin in the game het. Skin in the game lig ons lewens na ‘n hoër vlak van bestaan. In die antieke tyd het koning Hammurabi van 1792 tot 1950 voorChristus geleef. In sy tyd was argitekte en boukontrakteurs onverantwoordelik in hulle bouwerke, soveel so dat dit vele sterftes teweeg gebring het. Dikwels het die geboue en konstruksies, wat opgerig is, ineengestort en inwoners gedood. Toe stel die koning ‘n stel wette op wat vandag bekend staan as die Kode van Hammurabi. Dit het bepaal dat wanneer ‘n boukontrakteur ‘n gebou bou wat later ineenstort en iemand dood, hyself doodgemaak moet word. Dit het ‘n drastiese afname in sterftes teweeg in die destydse bou-industrie gebring. Mense werk baie deegliker en is baie versigtiger en meer toegewyd, wanneer hulle skin in the game het.


Wanneer die lewe jou kos, leef jy eenvoudig beter. Jesus-volgelinge moet veral ligloop dat ons nie in die lokval van offerlose godsdiens val nie. Hier in Suid-Afrika dink baie mense dat wanneer hulle een of twee kere per maand hulle voete in die kerk sit om ‘n paar liedjies te kom sing, hulle hengse applous verdien. Of omdat hulle op sosiale media iets geestelik kwytraak of ‘n Bybelversie post. Deesdae is opinies lug ook die manier, waarop mense “opstaan” vir die evangelie. Of ‘n bakleiery oor standpunte. Dalk moet ons “opstaan” vervang met “opoffer”. Baie gelowiges gee nie meer hulle lewe nie. Nee, hulle lug eerder ‘n opinie. Die hemele behoed ons, wanneer dit die trant van ons spiritualiteit word. In die Netflix reeks, The Inside Man, sê die priester vir sy vrou:


The Christian religion is the only religion where God dies in the end. People call themselves Christians, but I don’t see them nailed to anything.


Wanneer Jesus egter jou hart verower, gebeur iets anders met jou. Jy tree in ‘n verbond met God. Dis ‘n verbond, omdat dit op opofferende liefde gebou is. Liefde vra alles en gee alles. En ja, hierdie opoffering is binne-in die konteks van genade. Maar ironies genoeg vra genade meer van jou, nie minder nie. Wanneer jy liefhet, gee jy alles en is jy bereid om alles te verloor. Liefde is die grootste risiko. Om hierdie verhouding moontlik te maak, het Jesus al die skin in the game gehad. Hy alleen het al die risiko op Golgota op Hom . Dis wat liefde doen. Mag ons nie verval in ‘n gepraat in plaas van doen nie, opinies lug in plaas van prakties liefhê en “opstaan” in plaas van lewens neerlê nie.


Die Bybel sê nie: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy opinie gelug het daaroor nie.


Nee, Hy het Sy lewe gegee.


Kan ons minder doen?

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page