top of page

Jesus doen sy beloftes!

Stephan Joubert

Die Gees is Jesus se geskenk aan ons in sy plek. Soos wat Hy beloof het toe Hy op aarde was, sou Hy by die Vader die Gees ontvang as Hy sy ereplek langs die Vader inneem. Dan sou Jesus die Gees oor al sy mense uitgiet. Presies dit het op Pinksterdag gebeur. Ook vir jou en my geld hierdie aangrypende geskenk uit die hemel. God se Gees is die grootste gawe van God hier in die eindtyd om die kerk op koers te hou. Die Gees waarborg Christus se persoonlike teenwoordigheid by ‘n ieder en ‘n elk van sy volgelinge.

Vroeër, toe Jesus nog op aarde was, kon Hy net een plek op ‘n keer wees. Maar nou, met die koms van sy Gees, is Hy orals by al sy mense aanwesig. Al God se kinders is nou Gees-deurdrenk. Jesus wat ons Heer en Christus is, soos wat Petrus hier in vers 36 sê, is ook die Gees-uitdeler. Hy oorspoel ons met sy spesiale aanwesigheid. Daarom dat ons kan sing en dans. Daarom dat ons kan feesvier. Jesus is hier. Sy Gees ook. Die Vader se heilige teenwoordigheid omring ons. Daarom dat ons kan lag. Daarom dat ons kan praat omdat ons nie meer wil stilbly oor die aarskuddende nuus dat Jesus ons Here is nie. Anders, as ons sou waag om te swyg, sal die klippe rondom ons dit begin uitroep!

Gebed

Heer ek juig en lag; ek sing en dans en praat oor U. U is my hele lewe! Amen

Comments


bottom of page