
Die meeste van ons onthou sekerlik die aaklige skurkkarakter in die fliek 101 Dalmations, genaamd Cruella DeVil. Sy is die briljante, maar psigopatiese eienaar van ‘n uiters suksesvolle mode- en klerevervaardigingsmaatskappy. In die 1996 Disney-weergawe vertel sy hoe sy sedert haar kinderjare, ‘n diep haat vir diere oor die algemeen, maar veral vir honde ontwikkel het. Met haar geldgierige en bose slinksheid beplan sy dus hoe om van een honderd en een Dalmations ontslae te raak en pelsjasse van hulle velle te maak! Haar karakter het tydens die negentigs miljoene kykers se verbeelding met haar donker sjarme aangegryp.
Onlangs het daar het ‘n nuwe fliek, eenvoudig getiteld Cruella, verskyn wat die oorsprongverhaal vertel van hoe haar karakter in die bose genie, wat sy uiteindelik geword het, ontwikkel het.
Wat uitstaan van die fliek, bo en behalwe die kleurryke kreatiwiteit en oorspronklikheid, is die innerlike worsteling, wat die jong Cruella met haarself het. Eintlik was sy die aangenome dogter van ‘n ma vir wie sy baie lief was. In haar jonger dae het almal haar Estella genoem. Wanneer Estella soms onvolwasse en venynig teenoor ‘n maatjie opgetree het, het hierdie liefdevolle ma haar beter en mooier kant na vore probeer bring deur vir haar te sê:
You are Estella, not Cruella!
Hierdie twee name word toe haar twee hoofidentiteite, wat voortdurend met mekaar in konflik verkeer. Die vraag, wat sy voortdurend vir haarself afgevra het, wanneer sy by kruispaaie kom, was: Is ek Estella, die goeie, liefdevolle en empatiese persoon, of Cruella, die venynige, onaangename, wraakgierige persoon? Na aan die einde van die fliek kom sy agter dat haar werklike biologiese ma eintlik ‘n magsbehepte, wrede vrou is. Hierdie besef, dat sy die biologiese kind van ‘n wrede vrou is, bring toe die Cruella-kant in Estella na vore. Sy besluit gevolglik om van toe af Cruella, die venynige en wraakgierige mens, te wees.
Wat interessant is, is hoe die beeld, wat sy oor haarself het, asook die persoon wat sy beoog om te word, gedurig afhang van wat in haar verhouding met haar twee moederfigure gebeur het. Haar identiteit en selfbeeld word dus aanhoudend en voortdurend bepaal deur hoe sy die dag in terme van haar verhouding met hierdie twee moeders voel, hoe goed of sleg hulle was.
Wanneer die Bybel egter oor identiteit praat, dan sê Jesus vir Nicodemus dat ons ‘n tweede keer gebore moet word (Joh 3:3). Die Griekse woord sê eintlik “van bo af gebore”. Ons primêre identiteit hang dus nie af van ons eerste natuurlike geboorte, of van wie ons ouers is, wat ons gedoen het of wie ons teleurgestel het nie, maar van ons twééde geboorte, die geboorte van Bo af. Alles hang af van wie God sê ons is. Ons identiteit lê in Jesus, wat vir ons aan die kruis gesterf het. Aan die kruis verdien Hy vir ons ‘n liefdesidentiteit, wat nie afhang van ons eie prestasies, omstandighede, tragedies of traumas nie.
In Jesus besit elke Jesus-volgeling ‘n onverganklike, onbesmette, onverwelklike, vaste en ewige identiteit, wat nooit deur enige teleurstelling van die lewe aangetas kan word nie. Ons is God se geliefdes. Golgota sê so. Hy het ons lief met ‘n ewige liefde, wat nooit kan of sal uitdroog nie. Ons identiteit is in Jesus en in Sy kruis en opstanding. Ons strewe is om soos Hy te wees. Ons begeerte is om tot die einde en daarna by Hom te wees.
As Cruella dit maar net geweet het: haar lewenskeuses word nie deur Estella of Cruella gebind nie. Die antwoord op haar identiteit lê nie daarin om terug te kyk oor haar verlede nie, maar eerder om na die hemel op te kyk. Sy hoef nie na haarself deur die bril van haar aaklige belewenisse as kind te kyk nie, maar deur die liefdesbril van God. Haar menswees word deur die wye spektrum van Goddelike liefde en genade bepaal, wat in Jesus beskikbaar is.
Ons selfverstaan lê in ons tweede geboorte, die geboorte van Bo.
Dit lyk my darem Nicodemus het dit wel besef. Ons kan ook.
Comentários